Dwelmbewusmaking in Heidedal-skole

0
237
Ivor Swartz, wat met ouers en leerders by Heidedal-skole gaan praat

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Organisatoriese Ontwikkelings- en Werknemerswelstandsafdeling, streef daarna om die welstand van die universiteit se personeel en plaaslike gemeenskappe te bevorder. Volgens departementshoof Burneline Kaars word verskeie inisiatiewe en aktiwiteite deur die jaar gereël en aangebied om dit te bereik.

“Vir ons jaarlikse gemeenskapsuitreikprojek, wat vanjaar in Heidedal aangebied word, sal ons ook tydens die bewusmakingsveldtog met die UV Kuns-, Kultuur- en Dialoogkantoor saamwerk,” sê sy.

Kaars vertel dat die doel van die projek is om leerders bewus te maak van hoe die keuses wat hulle maak hul fisieke en geestelike welstand kan beïnvloed en hoe hulle hulself kan beskerm teen gevaarlike gedrag en dwelmverslawing. “Ons wil hê dat ons kinders en toekomstige leiers bewus moet wees van die gevare van dwelms en die uitwerking daarvan op gesinne en hul toekoms.”

Die departement het die jong opkomende leier en spreker, Ivor Swartz, genooi om ouers, leerders en onderwysers van al die skole in Heidedal tydens hul skoolvergadering op 10 en 11 Julie 2019 toe te spreek. Swartz sal ook die ouers van die leerders van Laerskool Olympia en Heide by hul ouervergadering toespreek. Volgens Kaars het hy ‘n unieke manier om mense te motiveer. “Ons glo dat almal wat Ivor se storie hoor, geïnspireer sal word om struikel-blokke op ons eie lewensreis te oorkom,” sê Kaars.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za