Lani Fouché
Slegs ‘n handjievol van die duursame straatlampe wat naby Woodland Hills-landgoed in Bloemfontein aangebring is, is nog in werkende toestand. Dié luukse lampe, wat met sonkrag werk, is kort voor die ANC se Eeufeesvieringe in Januarie 2012 in Frans Kleynhansweg aangebring, maar is sedertdien erg deur diewe geplunder. Nou blyk dit dat dié lampe ook in uitgesoekte woonbuurte in Botshabelo en Thaba Nchu deur die regering aangebring is. Die verskillende komponente van die lampe verdwyn egter stuk-stuk kort nadat dit opgerig is, veral in Botshabelo.
Die lampe het ‘n sonpaneel wat bedags die battery laai. ‘n Outomatiese skakelaar gaan aan sodra dit donker word en skakel weer af wanneer dit lig word, of wanneer die battery leegloop. Absoluut geen krag, dit wil sê ondergrondse kabels en installasies, is nodig nie. Maar dié lampe is duur. Courant verneem dat dit tot meer as R20 000 per lamp kan kos. Diewe besef dat dit waardevolle materiaal is. Byna elke lamp in Frans Kleynhansweg se battery is gesteel en die meeste se sonpanele is verwyder. Sommige is totaal afgesaag en lê skuins oor die sypad.
“Dit lyk lelik, man,” kla ‘n inwoner wat in Frans Kleynhansweg woon. “Ek weet nie hoe kom die diewe daar bo nie, hulle kan tog nie met ‘n reuse-leer hier opdaag nie? Wie gaan nou die stukkendes vervang? Wie se verantwoordelikheid is dit?”
Die polisie in Bloemfontein het bevestig dat hulle geen klag van diefstal in verband met dié lampe in Frans Kleynhansweg ondersoek nie.
“Onthou dat dit die verantwoordelikheid van die munisipaliteit is. As hulle die diefstal by die polisie wil aanmeld, moet hulle dit doen. Maar ons het nog niks ontvang nie,” sê Chaka Marope van die Parkweg-polisiestasie. By navraag aan die Mangaung Metro-munisipaliteit, het hulle ontken dat die lampe die munisipaliteit se verantwoordelikheid is. Courant is toe na die plaaslike kragverskaffer, Centlec, verwys. Centlec sê hulle het die lampe in opdrag van die Vrystaatse regering bekom en installeer, en dit is waar dit eindig. Hulle het geen verdere verantwoordelikheid ten opsigte daarvan nie. Die provinsiale regering het teen druktyd nog nie op Courant se navrae reageer nie.
Centlec gee egter te kenne dat diewe hulle oor die algemeen met die hande in die hare laat – veral in die laaste paar maande. “Ons het al miljoene rande spandeer om straatlampe, kabelnetwerke en staaltorings wat gesteel of geplunder is, te herstel of vervang,” sê die maatskappy. 70% van die straatlampe in Hospitaalpark, Universitas en Waverley is buite werking weens diefstal en vandalisme.
lani@centralmediagroup.co.za