Eduplus Museumuitstalling 2016 in die Reservoir by Oliewenhuis-kunsmuseum te sien

0
Eduplus Museumuitstalling 2016 in die Reservoir by Oliewenhuis-kunsmuseum te sien

Eduplus Primêr, in samewerking met die Nasionale Museum, Bloemfontein, bied sy jaarlikse museumuitstalling deur laerskoolleerders van graad 4 tot 7 aan. Die uitstalling is vanaf Vrydag, 13 Mei, tot Sondag, 22 Mei 2016, in die Reservoir by Oliewenhuis-kunsmuseum te sien.
Eduplus Primêr is ‘n onafhanklike private skool in Langenhovenpark, Bloemfontein. Eduplus volg die Nasionale Kurrikulum, maar doen ook moeite met verrykende onderwys en is altyd op soek na idees om die leerwerk vir die kinders op interessante en innoverende wyse aan te bied. Een van die vakke wat volgens die kurrikulum aangebied moet word, is Sosiale Wetenskappe.
Die vak Sosiale Wetenskappe bestaan uit Geskiedenis en Geografie. Alhoewel die twee dissiplines afsonderlik aangebied word, is hierdie kurrikulum ontwerp om die kennis (inhoud, vaardighede en konsepte), soos uiteengesit in elkeen, aan te vul.
Volgens die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring vir Sosiale Wetenskappe, GRAAD 4-6 is een van die voorgestelde projekonderwerpe wat gedurende die jaar gedoen moet word, ‘n museumuitstalling. Die opdrag lees soos volg: “Maak ‘n museumuitstalling: ‘n Interaktiewe museum van alledaagse voorwerpe met byskrifte om daaraan betekenis te gee.” (NKV SW 2011:15) (Die Nasionale Kurrikulumverklaring Graad R-12 is ’n beleidsverklaring met betrekking tot onderrig en leer in Suid-Afrikaanse skole.)
Dit is definitief ‘n groot hoogtepunt op die skool se kalender en die leerders is baie opgewonde. Die museumuitstalling bied aan die leerders die geleentheid om ‘n verskeidenheid van vaardighede te ontwikkel en ten toon te stel. Elke graad ontvang ‘n eie, unieke tema waarvolgens die uitstalling beplan word.
Die temas vir 2016 is as volg:
Graad 4:
‘n Museumuitstalling oor iemand in jou familie wat ‘n belangrike bydrae tot sy/haar gemeenskap gelewer het of nog steeds lewer.
Graad 5:
‘n Museumuitstalling oor ‘n plek wat vir jou belangrik is en wat as erfenis vir die nageslag bewaar moet word.
Graad 6:
‘n Museumuitstalling oor ‘n geskiedkundige gebeurtenis.
Graad 7:
‘n Museumuitstalling oor ‘n dag wat die geskiedenis verander het.
Gratis toegang
Tye:
Maandag tot Vrydag: 09:00 – 17:00

Saterdag en Sondag: 09:00 – 16:00

Openbare vakansiedae: 09:00 – 16:00

No posts to display