Duo FourIVTwo saam met VSO op die planke

0
453

Magdalena de Vries (marimba) en Frank Mallows (vibrafoon), beter bekend as Duo FourIVTwo, sal aanstaande maand saam met die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO) op die planke wees. Op 5 Junie speel hulle Peter Klatzow se Concerto vir Vibrafoon, Marimba en Strykers met die VSO onder leiding van Alexander Fokkens.
Die duo tree gereeld reg oor die land op – onder andere tydens die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, die konsertreeks in die Baxter-Teater, by Aardklop in Potchefstroom, die Franschoekfees en in die ZK Matthews-saal by Unisa. Hulle speel gereeld nuwe werke van Suid-Afrikaanse komponiste en het al wêreldpremières van meer as 15 opdragwerke gelewer. Die gehoor was in vervoering met die duo se uitvoering onlangs in Kaapstad van die Peter Klatzow Concerto en hulle is beloon met ‘n staande ovasie.
Die program begin met die pragtige Siegfried Idyll wat Wagner as ‘n verjaardaggeskenk vir sy vrou tweede vrou Cosima gekomponeer het ná die geboorte van hulle seun Siegfried. Dit word gevolg deur die Concerto en na pouse speel die orkes Mendelssohn se Simfonie No. 3 wat algemeen bekend is as die "Skotse Simfonie".
Die konsert begin om 19:30 in die Odeion op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Kaartjies kos R120 (volwassenes), R80 (pensioenarisse) en R50 (studente/skoliere en vir groepe van 10 of meer) by Computicket (Checkers-, Shoprite-winkels).