Duisend maniere om die emmer te skop

0
137

Daar is baie maniere waarop ‘n mens op onnatuurlike wyse die tydelike met die ewige kan verwissel. Dit kan nogal ‘n fassinerende onderwerp wees, soos die gewilde Amerikaanse televisiereeks, 1000 Ways to Die, bewys het.
Motorongelukke veroorsaak die dood van 1 uit 90 mense in die VSA. Dis waarskynlik baie hoër hier by ons. Die kans dat jy in ‘n brand gaan sterf, is 1 uit 250, die kans dat ‘n tornado jou gaan kom haal 1 uit 60,000, en die moontlikheid dat ‘n haai jou gaan doodbyt, sowat 1 uit 264 miljoen.
Al hierdie oorsake van sterftes is redelik bekend en dikwels in die nuus. Maar meteoriete of asteroïede, wat uit die buitenste ruim mense hier onder op aarde kom plattrek, is nie te algemeen nie. Tog het ‘n professor aan die Tulane Universiteit in New Orleans, Stephen Nelson, uitgewerk dat jou kans om só jou lewe te verloor, 1 uit 1,6 miljoen is. Dis veel groter as in ‘n haai-aanval.
Jy kán natuurlik ook ‘n rots-uit-die-ruimte oorleef. Dit is presies wat vandeesmaand 65 jaar gelede met ene Ann Hodges in die Amerikaanse staat Alabama, gebeur het. Sy is tot op hede die enigste persoon in die geskiedenis wat amptelik daarop kon aanspraak maak dat sy deur ‘n meteoriet getref is.
Op die middag van 30 November 1954 het die 34-jarige Ann op haar rusbank gelê en dut toe ‘n meteoriet van net minder as 4 kg deur haar huis se dak bars, wegspat van die radio af, en haar teen die kant van haar lyf tref. Sy was gelukkig om net met ‘n kneusplek daarvan af te kom.
Bure het onmiddellik gedink die Russe val hulle aan – dit was midde in die Koue Oorlog – maar dit was, soos iemand dit later gestel het, “gelukkig net ‘n meteoriet”.
Ann Hodges was hierna nooit weer dieselfde nie. Sy en haar man is later geskei en sy’t ‘n senuwee-ineenstorting gehad. Dit was uiteindelik nie ‘n ruimterots wat haar in 1972 haar lewe gekos het nie, dit was ‘n niersteen. – Albe Grobbelaar