Dubbele vreugde vir Super Seals

0
1156
Cobus Botes in aksie.

Dit blyk dat die Super Seals-swemklub weer goed op dreef is nadat hulle koning gekraai het by vanjaar se Vrystaat-swemkampioenskap (FS Aquatics Championships) wat van 28 November tot 3 Desember plaasgevind het.

Afrigter Simon Gray se swemmers gooi hom in die water nadat hy n weddenskap verloor het.

Een van die besonderse swemmers dié jaar is die 12-jarige Cobus Botes van die Laerskool Jim Fouché, wat sedert agtjarige ouderdom by Simon Gray, afrigter van die Super Seals, swem. Botes het vanjaar Ryk Neethling se rekord, wat sedert 1990 staan, gebreek. Hy het soos ‘n ‘vis geswem’ en die vorige rekord van 2:43:83 in die 200 m-vlinderslag met sewe sekondes verbeter om ‘n nuwe rekord van 2:36:14 op te stel.
Dit is vanselfsprekend dat Gray baie trots is op dié talentvolle jong swemmer. Hy oefen sowat 12 tot 15 uur per week. “Hy is baie hardwerkend, handhaaf goeie dissipline en luister wat mens vir hom sê,” sê Gray. “Hy het beslis die potensiaal om baie ver te kom en baie te bereik.”
Selfs Ryk Neethling het vir Botes ‘n spesiale boodskap gestuur. Met die woorde, “Dit is wonderlik! Baie geluk! Ek wens jou ‘n suksesvolle loopbaan toe. Droom groot, werk hard, geniet jouself en leer uit jou mislukkings,” het Neethling die jong ster aangemoedig.
Die Super Seals was agt jaar laas as die beste span tydens die jaarlikse swemkampioenskappe aangewys, maar Gray, kan beslis breëbors rondloop nadat sy swemmers stof in die oë van sowat agt ander swemklubs geskop het.
Gray meen die skuif van Super Sport Gym na Bloemanda het ‘n negatiewe effek op sy klub gehad. Hy het baie swemmers verloor. In 2012 het Gray sy eie swemskool by sy huis begin en so het sy swemmers weer begin groei. “In 2014 het die Super Seals na die Stadionswembad geskuif en van daar af het ons aan die swemmers begin werk,” vertel Gray.
Die toewyding van Gray, die komitee en die ouers het die swemmers en die klub by die dag net sterker gemaak.
Die klub bestaan uit sowat 92 swemmers.
Ander swemmers soos Louis Coetzer, Jedrick Geleta en Amelia Vincent het onderskeidelik die beste gevaar in hul ouderdomsgroepe.
Gray is baie trots op sy swemmers. “Dankie aan almal vir hul toewyding, insluitend die komitee, die ouers en die swemmers. Sonder jul toewyding sou ons dit nie bereik het nie. Dankie aan Dan Kotsiane wat vir ons swemmers ‘n nuwe ‘huis’ gebied het by die munisipale swembad,” was Gray se woorde.
Na afloop van die verrigtinge het die swemmers hul afrigter in die swembad gegooi. Dit was deel van die weddenskap dat hulle sou wen – en so kon “Coach” goed afkoel.

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za