Du Preez by die nasionale vrouespan ingespan

0
184
Dillon du Preez FOTO: BACKPAGEPIX

Die voormalige veelsydige speler van die VKB Knights, Dillon du Preez, is aangestel as die nuwe hulpafrigter vir die nasionale vrouekrieketspan.

Du Preez, wat ná sy uittrede as ‘n speler begin afrig het by die Vrystaat, het Hilton Moreeng vroeër dié jaar gehelp toe die Proteas in Potchefstroom bymekaargekom het vir hul eerste oefenkamp voor die beplande toer na Engeland. Weens die internasionale reisbeperkings is dié toer egter in Augustus afgelas.

Du Preez het aan Bloemfontein Courant gesê hy is dankbaar vir die geleentheid.
“Ek voel regtig geëerd. Ek sal so ‘n geleentheid geniet en kan nie wag om te begin nie.

“Daar het in die laaste ruk baie agter die skerms plaasgevind en natuurlik, weens die Covid-19-pandemie, moes ek wag voordat ek formeel by die span aangesluit het.

“Die tyd uiteindelik aangebreek en ek is regtig opgewonde. Ek kan nie wag om saam met Hilton (Moreeng) die meisies te begin slyp nie.”

Moreeng het op sy beurt ook lank by die Vrystaat afgerig voordat hy aangewys is as die hoofafrigter van die nasionale vrouespan.

‘n Paar maande gelede het Bloemfontein Courant berig dat Du Preez ook aangestel is as hoofafrigter van die Athens Tigers vir die Premierliga in Griekeland in 2021. – MORGAN PIEK