Du Plessis slaggereed vir nuwe uitdaging by Bulle

0
193
Die oud-Grey-kollege 1ste XV-afrigter, Wessel du Plessis (regs) saam met oud-WP- en SA Rugby-administrateur, Tobie Titus. FOTO: CARL FOURIE

Dit is bevestig dat die hoofafrigter van Grey-kollege se eerste rugbyspan as nuwe hoof van Junior Rugby by die Bulle in Pretoria aangewys is.

Die 35-jarige Wessel du Plessis sal direk rapporteer aan die voormalige Springbok-afrigter, Jake White, wat die nasionale span na die 2007-Rugby Wêreldbeker-titel gelei het. White is op die oomblik die nuwe direkteur van rugby by die Bulle.

Dié aanstelling is ‘n groot kompliment vir Du Plessis. Sy vaardighede as afrigter sal vir seker baie vir die span van die Jakarandastad beteken.

Du Plessis is sedert 2014 die breier van Grey-kollege en het onkende sukses by die skolespan behaal, veral in die vorige drie jaar. Hoewel daar vanjaar slegs twee wedstryde gespeel is voordat rugby weens die Coronavirus gestaak is, is Grey sedert 2017 onoorwonne teen nasionale en internasionale teenstanders. Dié skool se laaste nederlaag was op 20 Mei 2017 toe hulle naelskraaps met 20-19 teen Selborne-kollege in Oos-Londen vasgeval het.

Du Plessis het aan Bloemfontein Courant erken dat die besluit om Grey te verlaat ‘n moeilike een was, maar hy glo die skool se rugby sal in goeie hande wees.

“Dit was ‘n moeilike besluit om Grey te verlaat, maar vir my bied dit ‘n baie goeie geleentheid by die Bulle. Ek is baie opgewonde, en ‘n mens moet gebruik maak van geleenthede wat na jou kant toe kom.

“Ek dink dat die rugbystrukture by Grey gesond is en ek is seker dat hulle nog hoër standaarde sal handaaf. Hulle sal steeds nie net die beste rugbyskool in die land wees nie, maar in die wêreld.

“Dit is ‘n groot voorreg om by die Bulle betrokte te wees en ek hoop dat ek ‘n bydrae sal kan maak tot hulle junior asook senior rugby. Daarby wil ek ‘n goeie afrigter wees wat die spelers en die unie eerste stel en aan die publiek ‘n goeie produk lewer.”

Du Plessis is in 2019 aangestel as hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse o.18A-span, en sou vanjaar die leisels van dié span oorgeneem het. – MORGAN PIEK