Dros-verkragting: Vriendin praat

0
4192
Nicholas Ninow FOTO: TWITTER

Nicholas Ninow (20) was tot onlangs toe nog onbekend aan die meeste mense in die land, maar nadat die nuus oor die opspraakwekkende verkragting van ‘n sewejarige meisie by ‘n Dros-restaurant in Pretoria gebreek het, is sy naam op almal se lippe.

Ninow is op 22 September in hegtenis geneem en staar aanklagte van verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, intimidasie en die besit van dwelms in die gesig.

Die voorval het baie mense laat wonder oor Ninow se agtergrond. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Bloemfontein Courant het ‘n goeie vriendin van Ninow, wat uitrduklik vermeld het dat sy nie haar naam genoem wil hê nie, meer lig gewerp op haar beskouing van die soort mens wat Ninow is.

Die vriendin, wat Bloemfontein dié week besoek het, sê sy ken Ninow en sy voormalige verloofde vir ongeveer ‘n jaar en ‘n half en is diep geskok oor die feit dat hy nou agter tralies sit vir beweerde verkragting. Sy vertel dat hulle almal nog in November 2017 elke dag saam koffie gedrink het en gereeld saam gebraai het. “Hy is so ‘n vriendelike ou. Hy was gewild onder mense en het lekker saam met almal gekuier. Hy was ook baie goed in sy werk en altyd behulpsaam,” het sy vertel.

Die vriendin sê Ninow se eks-verloofde, wat tans sy kind verwag, reeds voor die voorval hul verlowing verbreek het, maar dat sy en Ninow steeds in ‘n verhouding was. “Ek weet nie hoekom sy die verlowing verbreek het nie; sy het ons nie vertel nie.”

Die vriendin vertel verder dat alhoewel Ninow ‘n baie sagte mens is en maklik emosioneel raak, daar tog soms tekens van aggressie was. “Hy het ‘n groot sny op sy arm soos wat hy eenkeer ‘n venster stukkend geslaan het nadat hy sy humeur verloor het.”

Sy is nie bewus daarvan dat hy ooit sy eks-verloofde leed aangedoen het nie. “Sy was alles vir hom en het hom heel gemaak ná al die seer wat hy in ‘n vorige verhouding gekry het.”
En die welstand van die eks-verloofde? “Sy is okay en gaan goed aan. Sy is baie opgewonde oor die kleinding wat vroeg volgende jaar sy opwagting gaan maak.”

Die vriendin vertel dat hulle self al die betrokke Dros besoek het en beleef het. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za