Droomskool vir dié kinders met outisme

0
610
Een van die leerders by Inspirare Academy.

Kinders met outisme het spesiale aandag sowel as opgeleide onderwysers nodig. Inspirare Academy, ‘n kleuterskool wat reeds vir twee jaar in Universitas, Bloemfontein geleë is, voldoen aan die noodsaaklike behoefte vir ‘n spesiale skool om hierdie kinders te akkommodeer. As die skool vroeg genoeg ingryp, help dit hierdie kinders met sosiale interaksie, kommunikasie en gedrag. Dit word moontlik gemaak deur individuele aandag aan die kleuters en is ook die oogmerk van dié spesiale skool.

Inspirare ontvang geen hulp van die regering nie en is geheel en al afhanklik van sy skoolfonds. Die Vrystaat het ongelukkig geen openbare skole wat kinders met outisme akkommodeer nie. “Private skole vir hierdie kinders is vreeslik duur en kan tot R12 000 per kind beloop, wat vir party ouers nie moontlik is nie,” sê Anita Venter, bemarkingsbestuurder van Inspirare Academy. Vrystaatse kinders word in skole geplaas wat nie geskik is vir hul toestand nie.

Die skoolklassies is baie kleurvol en geskik vir leerders met outisme.

Die skool het ‘n beperkte bron van inkomste. Inspirare het dus besluit om deur die projek Bricks for Kids fondse in te samel en op 30 November ‘n konsert te hou by die Hoërskool Jim Fouché. Die konsert begin om 18:00, en koste beloop R160 per persoon. Arno Jordaan, Elizma Theron en Ampie sal optree in die konsert, waartydens stene aan maatskappye verkoop word teen R2000 per steen. Besighede adverteer dan hierop, en hoe meer stene hulle koop, hoe meer blootstelling geniet hul besigheid. Ondersteuners sal moet gou spring aangesien daar net 30 stene beskikbaar is.

“Ons verkoop ook stalletjies vir R250 en R500 wat op dié dag van 14:00 – 22:00 hul ware beskikbaar kan stel. Die geld van die stalletjies sal die uitgawes dek, aangesien ons kragopwekkers huur om seker te maak dat niks skeefloop by die geleentheid nie. Die ander geld gaan na die skool. Daar sal minstens 800 mense wees, want dit is die hoeveelheid kaartjies wat beskikbaar is vir die konsert,” sê Venter. “Ons het groot drome vir hierdie projek, want ons wil meer kinders akkommodeer en ons wil ook ‘n laerskool vir hierdie kinders open. Outisme word dikwels verkeerd verstaan, maar met die regte ingryping en passie van onderwysers sal hierdie kinders presteer en hul strewe bereik.”
Vir enige verdere inligting oor die konsert, skakel gerus vir Anita Venter by 063-674-6770.