Droogtehulp ‘rol’ deur die Vrystaat

0
359
Tientalle vragmotors, bakkies en motors het gistermiddag in n konvooi uit Bloemfontein vertrek met droogtehulp vir boere in die Oos-Kaap Foto: Pierce van Heerden

Vragmotors, bakkies en motors, wat droogteskenkings soos veevoer, kospakkies, waterbottels en ander noodsaaklike artikels vir sowat 50 boere vervoer, het vandeesweek in Bloemfontein, onderweg na Cradock in die droogtegeteisterde Oos-Kaap, byeengekom.
Dié voertuie, wat van onder meer Rustenburg in Noordwes en Frankfort in die Vrystaat is, het op Woensdag 4 Desember by die Shell Ultra City by Spitskop buite Bloemfontein aankom, waarná dit in ‘n konvooi na Cradock in die Oos-Kaap gereis het.

Jan Lotz van Droogtehulp SA, sê meer as 50 voertuie was betrokke. Dit vorm deel van een van Boeredroogtehulp SA se vele insiatiewe, waar skenkings aan boere in droogtegeteisterde provinsies soos die Oos- en Noord-Kaap verleen word.

Lotz sê drie vragmotors van Wolsak Vervoer in Cradock, met sowat 60 groot veevoerbale per vragmotor wat deur boere in die Frankfort-distrik geskenk is, was die eerstes om in Bloemfontein aan te kom.

Verskeie sakeondernemings het skenkings gemaak om dié vragmotorbestuurders en ander betrokkenes te bederf met kos en iets om te drink. Daar is vir hulle boereworsrolle voorberei.

‘n Vragmotorbestuurder van Wolsak Vervoer, Johan Cordier, bestuur al vir meer as 40 jaar vragmotors en sê dit beteken vir hom baie om dié veevoerskenkings na boere te vervoer, want daar is groot dankbaarheid elke keer wanneer boere in dié droogtegebiede hulp ontvang.

Volgens Lotz het die gemeenskap werklik hul harte en beursies oopgemaak om boere geldelik te ondersteun. Hy sê daar was mense wat geld geskenk het sonder ‘n braaibroodjie in ruil daarvoor.

Chris van Biljon, ‘n sakeman van Rustenburg in Noordwes wat ook in die konstruksiebedryf werksaam is, is die man agter Boeredroogtehulp SA. Hy het twee jaar gelede veevoer by ‘n boer en sy vrou in Aberdeen in die Oos-Kaap afgelewer.

Dit was vir Van Biljon ‘n hartroerende ervaring en daarom het hy besluit om voort te gaan en hulp aan ander boere te verleen.

Christal-Lize Muller

cmuller@centralmediagroup.co.za