Drie vermeende verkragters terug by Bfn-skool

0
921

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat doen stappe om die HTS Louis Botha in Bloemfontein se beheerliggaam te laat ontbind.

Dit kom nadat die SAOU die departement, sonder sukses, herhaaldelik versoek het om in te tree. Provinsiale Sekretaris van die SAOU, Reniël Lodewyk, sê ‘n hofaansoek is in die Vrystaatse Hooggeregshof ingedien en die balju het gisteraand die hofstukke op dié beheerliggaam en sy lede beteken.

Redes vir die ontbinding is in die hofstukke vervat. Volgens Lodewyk oorskry beheerliggaamlede van dié skool onder meer hul magte as dit by skoolbestuur en -beheer kom.

Daar is talle geldelike kwessies wat aangespreek moet word. Dit is kommerwekkend, sê hy. Nog kwessies wat in die hofstukke vervat is, sluit in die aanranding van leerkragte deur leerlinge. ‘n Voorval van verkragting is nog ‘n kwessie wat nie korrek deur die beheerliggaam hanteer is nie.

Lede van die beheerliggaam “bestuur die skool net soos hulle wil,” en vir eie gewin. Volgens hom is daar lede op die beheerliggaam met sowat R100 000 agterstallige skoolgeld.

Die hofaansoek kom te midde van die terugkeer van drie seuns na die skoolbanke gister, nadat hulle na bewering ‘n minderjarige meisie, wat glo dronk was, vroeër vanjaar op die skoolterrein verkrag het. Lodewyk sê ‘n hofbevel is verlede week verkry waarin beslis is dat die seuns onderrig by die skool mag hervat.

OFM-nuus het al drie weke gelede verneem dat die betrokke seuns beplan om terug te keer na die skool. Die departement se woordvoerder, Howard Ndaba, het toe bevestig die seuns is nie terug by die skool nie.

Christal-Lize Muller/OFM NEWS