“Drie” van die Vrystaat in SA Wêreldbeker-span

0
487
Pheko Moletsane in aksie vir die Vrystaat tydens die 2018-Khaya Majola-week in Kaapstad. Die draaibalbouler is ook 'n goeie kowler en kan as 'n veelsydigespeler bekou word. FOTO: EJ LANGNER

Die VKB Knights se 19-jarige snelbouler, Gerald Coetzee, is by die Suid-Afrikaanse span ingesluit vir die 2019-o.19-Krieket-Wêreldbeker wat in Suid-Afrika gespeel sal word.

Dit ten spyte van die feit dat Coetzee tydens die Mzansi Superliga ‘n dyspierbesering opgedoen het terwyl hy vir die Jozi Stars in aksie was.

Bloemfontein Courant is egter ingelig dat die besering nie te ernstig was nie, en dat Coetzee wel sou fiks wees vir die Wêreldbeker.

Coetzee self het ook bevestig dat sy fokus op die Wêreldbeker is en ‘n mens kan aflei dat sy onttrekking uit die MSL T20 meer ‘n voorsorgmaatreël was.

Coetzee sal vir die tweede keer vir die Wêreldbeker speel nadat hy Suid-Afrika tydens die 2018 weergawe in Nieu-Seeland verteenwoordig het. Hy was daardie jaar een van drie Suid-Afrikaners wat by die Krieket-Wêreldbeker se elftal ingesluit was. Die ander was die kolwer Raynard van Tonder, en die paaltjiewagter Wandile Makwetu. Al drie is nou ook spanmaats by die Knights.

Die ander Vrystater wat in die Wêreldbeker sal speel, is die draaibalbouler, Pheko Molentsane. Molestane en Coetzee was verlede jaar nog spanmaats in St. Andrew-skool se 1ste XI. Molestane, wat ook ‘n baie goeie hokkiespeler is, het vanjaar matriek geskryf en sal aanstaande jaar aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Daar word geglo dat hy ook binnekort vir die Knights kan speel.

Andrew Louw, wat oorsponklik van die Noord-Kaap is en reeds by Kovsies swot, sal ook in die Wêreldbeker speel.

Die Wêrelbeker sal tussen 17 Januarie en 9 Februarie plaasvind, en daar sal ook wedstryde in Bloemfontein gespeel word.

SA Onder-19 Wêreldbekerspan – Bryce Parsons (kaptein), Khanya Cotani, Luke Beaufort, Jonathan Bird, Merrick Brett, Achille Cloete, Gerald Coetzee, Tyrese Karelse, Mondli Khumalo, Jack Lees, Andrew Louw, Levert Manje, Odirile Modimokoane, Pheko Moletsane, Tiaan van Vuuren. – MORGAN PIEK