Die Suid-Vrystaat (SFS) seuns onder 16-hokkiespan word nie net gereken as die beste in die land nie, maar daar is duidelik tekens dat dié span hom in die nabye toekoms as gevaarperd op interprovinsiale toernooie (IPT’s) gaan vestig.
Genoemde SFS-span het vanjaar slegs in die B-afdeling van die nasionale IPT meegeding, maar het sy mededingers in dié afdeling lelik stof in die oë geskop. Die span het die eindstryd in dié afdeling met ‘n reuse-telling van 5 – 0 teen die B-span van die Oostelike Provinsie beklink en sodoende ‘n plek in die A-afdeling vir 2017 losgespeel.
Bogenoemde mag dalk nie baie nuuswaardig klink nie, maar die feit dat drie spelers van dié span uit ‘n B-afdeling ingesluit is in die Suid-Afrikaanse onder 16A-span is bykans ondenkbaar. Daar is boonop ‘n nie-reisende plaasvervanger van die genoemde SFS-span ingesluit in genoemde Suid-Afrikaanse span.
Die drie Suid-Afrikaanse spanverteenwoordigers, Trevor de Lora, Daniël Rankhota en Jacques van Tonder, is almal leerlinge van die Hoërskool Grey-kollege en die nie-reisende plaasvervanger, Sikha Nkosi, sit ook tans op die skoolbanke van Grey. Hy het die Suid-Afrikaanse onder 16B-span verteenwoordig.
Slegs die Westelike Provinsie het meer (vyf) spelers as die Suid-Vrystaat opgelewer in die nasionale A-span.
Nog beter, die Suid-Afrikaanse onder 16A-span, onder 18A-span, onder 16B-span en Namibië het mekaar getakel ná genoemde IPT en dit is hier waar Van Tonder beloon is vir sy puik spel. Hy het die onderskeiding behaal om as SASHOK se Speler van die Toernooi aangewys te word. – RUFUS BOTHA