Drie gesogte musiekdosente sluit by die UV aan

0
675

Die Odeion Skool vir Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het onlangs sy verbintenis tot uitnemendheid bevestig met die aanstelling van drie uitsonderlike uitvoerende kunstenaars en opvoedkundiges.
Prof Ruth Goveia (klavier) is aangestel as medeprofessor, Danré Strydom as ‘n junior dosent in klarinet en saksofoon en as koördineerder van die houtblaas-program, en George Foster as ‘n junior dosent in koperblaasinstrumente.
Prof Goveia het ‘n doktorsgraad in Klaviermusiek behaal by die Jacobs Skool vir Musiek aan die Indiana Universiteit in die VSA. Sy het ‘n BMus (Ed) van die Departement Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat en werk aan ‘n meestersgraad in Klavieruitvoering aan die Kollegekonservatorium vir Musiek aan die Universiteit van Cincinnati in die VSA. Sy was vir verskeie jare senior dosent in Klavier aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban.
Sy was in die VSA adjunkprofessor in Klavier aan Albion-kollege in Michigan en besoekende professor aan die Indiana Universiteit. Meer onlangs (2009-2012) het sy die pos van medeprofessor in die Departement Musiek aan die Universiteit van Pretoria beklee.
Prof Goveia het as solis opgetree saam met die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes, die Kaapse Filharmoniese Orkes, die PACOFS-orkes, sowel as die Johannesburgse Simfonieorkes. As solis het sy wyd opgetree, insluitend optredes by die Indiana Universiteit, die Cincinnati Kollegekonservatorium vir Musiek, die Musica Viva Performance-reeks in Illinois en as gaskunstenaar by die Kalamazoo Kollege vir Musiek, asook by die Albion Kollege in Michigan (VSA). Sy het deelgeneem aan die Kamermusiek-projek van die New York-gebaseerde Artur Balsam-stigting, en het saam met die klarinetspeler Randall Paul gewerk aan ‘n duettoer deur Georgia en Alabama.
Prof Goveia se klavieronderwysers en mentors is, onder andere, vooraanstaande pianiste soos Edmund Battersby, Béla Siki, Frank Weinstock en Nils Kayser. Sy het deelgeneem aan meestersklasse wat aangebied is deur William Doppman en wyle Steven de Groote. Sy het haar kamermusiek-ervaring opgedoen onder leiding van die Hongaarse tjellis Micu Szigeti, asook Peter Kamnitzer, altviolis van die La Salle-kwartet. Haar werk as begeleier en solis is geïnspireer deur die waardevolle ervaring wat sy opgedoen het in die ateljees van Jean-Louis Hagenauer, Miriam Fried, Mauricio Fuks en wyle Dorothy DeLay.
Prof Goveia is ‘n ervare beoordelaar, en word gereeld genader vir sowel nasionale as internasionale klavierkompetisies, feeste en eksamens. Sy is ‘n toegewyde onderwyser wat dit geniet om met sowel studente as met professionele musikante te werk. Verskeie van haar studente het in kompetisies en eksamens uitgeblink en het suksesvolle loopbane.
Klarinetspeler Danré Strydom is in Suid-Afrika gebore en het haar musiekopleiding in Windhoek, Namibië, begin. Nadat sy die Interlochen-kunstekamp in die VSA bygewoon het, het sy haar studies onder leiding van Heinrich Armer in die Departement Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat voortgesit.
Ná voltooiing van haar honneursgraad (cum laude), het sy ‘n beurs ontvang om aan die invloedryke Jacobs Skool vir Musiek in Indiana in die VSA te studeer. Hier het sy saam met die bekende klarinetspelers Eli Eban en Eric Hoeprich gestudeer, kamermusiekklasse en meestersklasse by Howard Klug en James Campbell bygewoon en haar solo-diploma met lof behaal. Strydom het daarna haar studies aan die Gent-konservatorium in België voortgesit, waar sy gewerk het aan ‘n meestersgraad (cum laude) onder leiding van Eddy Vanoosthuyse (hoofklarinetspeler van die Brusselse Filharmoniese Orkes), met spesialisasie in klarinetuitvoering, en ‘n tweede meestersgraad (cum laude) in basklarinet onder leiding van die hoofbasklarinetspeler van die Koninklike Simfoniese Orkes van die Belgiese Guides. Strydom is tans besig met ‘n PhD in klarinetuitvoering by die Odeion Skool vir Musiek aan die UV.
In België was Strydom van 2009 tot 2013 ‘n ad hoc-lid van die Brusselse Filharmoniese Orkes. Sy het ook saam met verskeie ander orkeste opgetree, waaronder die Namibiese Nasionale Orkes,die Vrystaatse Simfonieorkes en die the Vlaamse Brabant Simfonieorkes (België). Solo-optrede sluit in optredes saam met die Universiteit van Gent Orkes (België), Sinfonietta Breda (Nederland), die Namibiese Nasionale Simfonieorkes, die Vrystaatse Simfonieorkes en die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes.
Danré is ‘n stigterslid van die Trans Z Ensemble (Zürich), wat uitsluitlik verbind is tot die uitvoering van nuwe musiek.
George Foster sal by die Odeion-personeel aansluit as dosent in koperblaasinstrumente. Foster is ‘n voormalige Fulbright-beurshouer en het sy meestersgraad in Musiek in 2010 onder leiding van prof Donald Little aan die Universiteit van Noord-Texas behaal. Hy het sy BMus-graad in 2004 onder leiding van die bekende Suid-Afrikaanse koperblaas-pedagoog Sean Kierman aan die Universiteit van Kaapstad behaal, waar hy ook die Anton Rupert-merieteprys ontvang het.
Foster het uitgebreide ervaring en onderrig as koperblaas-pedagoog en professionele afrigter in Suid-Afrika en in die buiteland ontvang. Gedurende sy studietyd in die VSA was hy ‘n lid van die Universiteit van Noord-Texas Blaasorkes, die Simfonieorkes en die Kamerorkes. Hy het ervaring as dirigent opgedoen deur die Noord-Texas Blaassimfonie, asook die Noord-Texas Internasionale Tuba- en Eufinium-ensemble, te dirigeer.
Strydom en Foster kom hulle verpligtinge by sowel die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) as die OSM na. Hulle sal albei ‘n belangrike rol speel as musikante en medewerkers in die aktiwiteite en inisiatiewe van die FSSO, en sal as afrigters en instrukteurs vir die Vrystaatse Jeugorkes optree.
Die OSM verwelkom hierdie drie vooraanstaande musikante met trots in die fakulteit en is gretig om hulle internasionale en gespesialiseerde bekwaamhede en talente as kunstenaars, kamermusikante en opvoedkundiges aan te wend in ons strewe na uitnemendheid.

Uitgereik deur: Direkteur: Strategiese Kommunikasie