Drie Crinums in Proteaspan vir Malawi-toetsreeks

0
369
Sne Mdletshe FOTO: GALLO

Die Protea-netbalafrigter, Dorette Badenhorst, het haar groep van 30 spelers gesny tot ‘n groep van net 15 spelers vir die reeks toetswedstryde teen Malawi, wat in Rustenburg plaasvind.

Ná die laaste oefenkamp wat die afgelope naweek in Sun City in die Pilansberge plaasgevind het, het Badenhorst haar finale groep aangewys en dit sluit drie spelers van die Vrystaat Crinums in. Lefebre Rademan, Sne Mdletshe en Khanyisa Chawane speel almal die reeks van drie toetse wat Donderdagaand begin.

Weens die Covid-19-pandemie wat verwoesting onder alle sportkodes gesaai het, het Netbal Suid-Afrika uitsonderlike werk gedoen om te verseker dat die spelers weer die internasionale verhoog kan betree.

Onlangs het die Telkom Netballiga in Bloemfontein plaasgevind en dit was die eerste geleentheid vir provinsiale spelers van reg oor die land om hul staal te toon. Dit kom as geen verrassing dat die meeste spelers in die nasionale groep die kampioene, die Gauteng Jaguars en die naaswenners, die Crinums, in die eindstryd verteenwoordig het nie.

Die Crinums se onderkaptein, Mdletshe, het aan Bloemfontein Courant gesê dat dir vir haar ‘n groot eer is om ná die moeilike jaar nasionale erkenning te ontvang.

“Tydens die inperking is die o.21-proewe asook die o.21-proewe gekanselleer, en dit is iets waarna ek baie uitgesien het. Toe dit afeglas is, was daar min oor van elke verwagtig wat ek vir die jaar gehad het. Vir my om die span te maak wat teen Malawi te staan kom, is ‘n groot eer en ‘n groot seën. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om tussen sulke goeie spelers te wees en ook om te leer.

“Ek moet net hierde gulde geleentheid met albei hande gryp. Ek weet daar is so baie ander spelers wat in my skoene sou wou wees. Ek is beslis opgewonde oor wat voorlê.”

Die eerste toets by die Sun City Superbowl word Donderdagaand om 19:00 beslis. Die tweede toets is Vrydagaand om 19:00 en die laaste kragmeting vind Sondagmiddag om 13:00 plaas. – MORGAN PIEK