Draf met ’n doel – liefdadigheid

0
638
Die jaarlikse Hollard Daredevil Run vind Vrydag 13 Oktober om 17:00 op Naval Hill plaas ter ondersteuning van Kansa en die Prostaatkankerstigting van Suid-Afrika. FOTO: Verskaf

Die jaarlikse Hollard Daredevil Run vind Vrydag 13 Oktober om 17:00 plaas ter ondersteuning van Kansa en die Prostaatkankerstigting van Suid-Afrika. Bloemfonteinse mans kan die strate invaar om hul ondersteuning in kankerbewusmakingsmaand te wys, as dit dan moet, in ’n “budgie smuggler”.

“ ‘n Gemiddeld van vyf Suid-Afrikaanse mans sterf elke dag weens prostaatkanker, maar vroeë opsporing van hierdie siekte kan ’n 95%-kans op oorlewing beteken,” het Francois Griesel, een van die organiseerders, verduidelik. “Die Hollard Daredevil Run is ’n veldtog om bewustheid oor prostaatkanker tydens die kankerbewusmakingsmaand te verhoog,” het hy gesê.

Dit is ook ’n besonderse geleentheid vir mans om bymekaar te kom en mekaar te ondersteun en aan te moedig om by ’n dokter uit te kom en toetse deur te gaan vir tekens van kanker.

“Jonk of oud, besighede en sommer net die normale jong man gaan baat by die inisiatief!” sê Griesel. “Spanbou en -gees is waaroor hierdie dag gaan, saam met die bewusmaking van kanker wat by mans gediagnoseer word,” het hy vertel.

Menigte hardloopklubs, deeltydse atlete, en selfs gemiddelde mans gaan deelneem aan hierdie wonderlike insisiatief. “Al die opbrengste gaan aan Kansa en die Prostaatkankerstigting van SA,” het Griesel verduidelik, “hierdie fondse word gebruik vir navorsing en natuurlik om ondersteuning en bewustheid van die soort kanker te verhoog.”

“Dis ook baie belangrik vir my dat die Bloemfontein-gemeenskap betrokke is!” het Griesel verklaar. “Ons gemeenskap is van die beste in Suid-Afrika, veral as ons gedurende swaar tye saamstaan en ondersteuning aan mekaar bied,” het hy bygevoeg, “Mense dink altyd hier gaan nie veel in Bloem aan nie, maar ek stem nie 100% saam nie.”

Mans wat betrokke wil raak met die draf vir liefdadigheid word versoek om kaartjies te koop by TicketPro, of vir Griesel te kontak by 076-919-6054.

Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za