Draairestaurant draai dalk weer voor einde 2013

0
Draairestaurant draai dalk weer voor einde 2013

Lani Fouché

Die deure van die Draairestaurant in Bloemfontein kan so vroeg as voor die einde van die jaar oopmaak. Nadat ’n artikel verlede jaar in Courant verskyn het met die nuus dat daar planne is om die alombekende Draairestaurant na etlike jare te heropen, is die nuuskantoor deur oproepe oorval van opgewonde Bloemfonteiners wat wou weet wanneer hulle weer ‘n spreekwoordelike draai by die restaurant kan maak.  Die Vrystaatse departement van openbare werke kon nou bevestig dat ’n tender vir die herstel van en opknapwerk aan die verwaarloosde restaurant vroeg in die nuwe finansiële jaar gevra en geadverteer sal word en dat dit heel waarskynlik teen die einde van die jaar gereed sal wees om aan ‘n potensiële restaurantbestuurder uitverhuur te word.

“Die normale oop tenderproses sal gevolg word, waarná die kwalifiserende diensverskaffer die kontrak sal ontvang,” het woordvoerder vir die departement, Winkie Direko, gesê. Die Draairestaurant was vir jare lank een van Bloemfontein se aantreklikhede en was sonder twyfel een van die gewildste eetplekke in die stad. Dié eetplek, wat aan die bo-punt van die CR Swart gebou is en een keer elke uur in die rondte draai, was aand na aand propvol, totdat hy in die laat negentigerjare weens duistere redes sy deure moes sluit. Courant verneem egter vertroulik dat ‘n insekplaag die vorige bestuurders genoop het om die deure toe te maak. Die restaurant het intussen in onbruik gestaan en is erg verwaarloos. Die perseel is tot onlangs deur MTN gehuur vir telekommunikasie-doeleindes.

No posts to display