Doxa Deo hou ‘inry-kerk’

0
300
Die “inry-kerk” by Doxa Deo verlede Sondag.

Die Doxa Deo Kerk in Fichardtpark, Bloemfontein het die afgelope Sondag met ’n
blink plan vorendag gekom om gemeentelede veilig te hou tydens kerkdienste toe hulle hul eerste “inry-kerkdiens” gehou het.

Volgens die Doxa Deo- stadsleier, Danie Roodt, het die gemeente op 6 September ’n baie “ou manier van bymekaarkom afgestof en ’n nuwe doel bereik met ’n inry-kerkbelewenis”.

Roodt sê dat baie jongmense geen idee het hoe opwindend inryteaters vroëer jare was nie. “Sondag se diens is met die hulp van ’n klankmaatskappy in Bloemfontein uitgesaai op
’n radiokanaal wat ’n beperkte reikwydte het. Mense kon in hul motors sit en het ingeskakel op DOXA FM 105. Ons het seker gemaak dat alle maatreëls in plek was om ’n veilige omgewing te skep. Almal moes aanlyn registreer vir die geleentheid om sodoende te voldoen aan die inperkingsregulasies.”

Hy verduidelik dat niemand toegelaat is om uit hul motors te klim nie en so is daar seker gemaak dit is veilig. Die “helpers” was die enigste mense wat rondbeweeg het en is beperk
tot 50, soos voorgeskryf vir byeenkomste. “Hulle het ’n briljante werk gedoen om vir mense voorafverpakte, geseëlde nagmaalpakkies te bedien. Ons doen ook altyd iets spesiaals vir die kinders.”

Roodt vertel hoedat die leierskap van Doxa Deo voortdurend na nuwe en innoverende maniere soek om mense te bedien, veral nou in die Covid-19-tyd en die uitdagings wat die verskillende vlakke van inperking bring.

Hy het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat hulle reeds sedert die begin van die inperking “aanlyn-kerk” hou op YouTube en Facebook, maar dat hulle die leemte om “in persoon” kerk by te woon, besef. Dit bly volgens hom steeds ’n groot behoefte by gemeentelede.

Roodt sê die terugvoer van Sondag se byeenkoms was baie positief. Talle mense kon vir die eerste keer in maande ’n aanbiddingsdiens bygewoon. “Saam met die waarde van aanbidding, luister na die Woord en nagmaal-hou, het ons terselfdertyd pret gehad in ’n veilige omgewing.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za