Doxa Deo gee polisiekantoor nuwe baadjie

0
1846
Doxa Deo-gemeentelede wat besig is om Sone 2 op te knap. FOTO'S: SAZLY HARTZENBERG

Die Doxa Deo Kerk, wat sowat 20 jaar gelede in Pretoria gestig is, se Bloemfontein-gemeente het begin met sy “Adopt a Station”-projek waar beoog word om polisiestasies in die stad een vir een op te knap. ‘n Paar gemeentelede het besluit om die Sone 2-polisiestasie naby die Windmill Casino te gaan mooimaak as beginpunt van hierdie aksie.
Cristo Fourie van Doxa Deo, het aan Bloemfontein Courant gesê die idee agter hierdie projek is om aan polisiebeamptes te wys dat die kerk hulle ondersteun en hulle regtig waardeer word. “Die stasie is baie vervalle en die parkeerarea het groot gate, onkruid en gras. Ons plant bome en struike en skoffel die gebied skoon.”

Oud en jonk het handjie kom bysit om die polisiekantoor ‘n nuwe baadjie te gee

Hy vertel verder, “‘n Maand gelede het ons begin met ‘n baie klein groepie mense wat bouervaring het. Ons het toe planne begin maak oor hoe om die polisie se kantore op te gradeer, en ons het toe hierdie naweek begin om wat reeds op papier was, is ‘n werklikheid te maak.”
Die buite- en binnekant van die gebou is reeds geverf en die stoep reggemaak. Fourie het verder verduidelik dat hulle volgende jaar die gebou in stand gaan hou om te verseker dat dit nie weer so sleg lyk nie.
Mev. Windmill Bloemshow 2018, Roseleigh Slater, voel God het haar geseën en vir haar gegee sodat sy ander mense kan help en dit is waarom sy besulit het om die kerk te help.

Lede van die Doxa Deo Kerk hard besig om die polisiekantoor op te knap.

Polisiewoordvoerder Thabo Covane het aan Bloemfontein Courant gesê die kerk besef onder watter groot druk die polisie werk en dit het gemaak dat hulle besluit het om die gees onder beamptes te kom ophef.
“Die polisie is baie dankbaar en opgewonde oor wat die kerk doen, Die lede voel hulle werk nou in ‘n omgewing waar daar vir hulle omgegee word.” – Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za