Dorothea Brits kan moontlik teen Vrydag haar bewussyn herwin

0
647

LANI FOUCHÉ

Dorothea Brits, die vrou van die vermoorde dominee van Harrismith – Willem Brits – sal na verwagting Vrydag haar bewussyn in die Mediclinic Bloemfontein herwin, as alles goed gaan. Dorothea word van vandag af geleidelik van die ventilator gespeen, en haar sedasie word stelselmatig verminder.

Sy is vroeër die maand met ‘n byl oor die kop gekap en haar man, dominee Willem Brits, is doodgemaak. Sy het kritieke hoofbeserings opgedoen. Haar aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is ook vermoor. Woordvoerder by Medicinic Bloemfontein, Amanda Appelgryn, sê Dorothea se neuro-chirurg is tevrede met haar vordering, en dat dit baie beter met haar gaan. "Sy was gister vir ‘n derde breinskandering. Die neuro-chirurg sal haar later hierdie week her-evalueer en dan sal ons verder kyk na die situasie."

Die Brits-egpaar se seun, Martin (28), is ‘n verdagte in die aanval op sy ouers en Vermeulen. Elliot Mhlambi (41), wat glo vroeër saam met Martin in ‘n tronk in Frankfort was, is sy medeverdagte.

‘n Familiewoordvoerder, AJ Scherrer, het intussen gesê die egpaar se ander drie kinders – Dawid, Willie en Thea – is tans by hul ma in die hospitaal. "Dit gaan goed met hulle, en hulle is veral dankbaar dat dit beter gaan met hulle ma."

Dorothea is egter steeds onbewus daarvan dat haar man en aanstaande skoonseun dood is, en dat haar seun ‘n verdagte is. "As sy haar bewussyn herwin, sal die kinders en hul ma dit maar hanteer op die regte tyd," sê Scherrer.

Scherrer sê dit is in hul beplanning om weer binnekort terug te trek na die pastoriehuis, waar die moorde gepleeg is en hul ma aangerand is. ‘n Datum hiervoor is egter nog nie vasgemaak nie. "Die polisie-ondersoeke by die huis is klaar, en alles is skoongemaak. Hulle sal op ‘n stadium weer in die huis intrek."