Dood van leraar se seun skok

0
769
Henry Kilian (15) en sy ma, Saloom.

Inwoners van Bloemfontein het met skok verneem van die dood van die 15-jarige Henry Kilian, gestremde seun van ds. Jaques Kilian en sy vrou, Saloom van die Bloemfontein Baptiste Kerk in Langenhovenpark. Henry is Sondagoggend in ‘n sorgsentrum dood nadat hy aan ‘n malvalekker verstik het.
Daar is die afgelope twee jaar na hom omgesien in die sorgsentrum weens sy erge gestremdheid (spasties, blind en verstandelik). Sy gestremdheid is die gevolg van ‘n baie komplekse swangerskap. Hy het Sondagoggend ‘n akute lugwegobstruksie ontwikkel toe hy die lekker geëet het. Volgens ds. Jaques Kilian weet die familie dat die sorgsentrum vir Henry die bes moontlike versorging gegee het. Henry was ook baie geliefd onder die ander inwoners.
Ds. Jaques, ma Saloom, Henry sy tweelingsussie Nadia, en kleinsus Melissa-Lente is platgeslaan oor die nuus. “Ons is in stukkies gebreek, maar vir Nadia, wat tans ‘n leerder aan Lettie Fouché-skool is, is dit baie swaar,” het ds. Jaques vertel.
Familie en vriende sal hom onthou as die seun met die pragtige glimlag en vriendelike gesig. “Hy was mal oor KitKat, en Oreo-koekies was sy gunsteling.”
Volgens ds. Jaques is die Kilian-gesin se harte gebreek en hulle huil, maar hulle weet Henry se liggaam is nou genees in die hemel waar hy nie meer blind is of seer het nie. “Hy is nou ontslae van sy gestremdheid. Hy kan nou rondhardloop en speel en sien en sing. Hy het nou uiteindelik die kans om ‘n regte seuntjie te wees.”
Henry word oorleef deur sy ouers, sy tweelingsussie Nadia (15), en Melissa-Lente (5). – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za