Dood van Bfn-veldloopatleet skok

0
1882
Kenith Devenish was versot op veldwedlope. Die foto is in Maart vanjaar geneem.

Inwoners van die Rosestad is diep geskok na die skielike afsterwe gister van die veldlopatleet Kenith Devenish wat baie bekend was onder mede-atlete in die stad. Hy het vermoedelik weens ‘n hartaanval gesterf.

Devenish, ‘n maatskaplike werker in die weermag en private psigiater, het op Sondag 15 Julie op Naval Hill gaan draf ter voorbereiding vir die gewilde Skyrun-wedloop wat in November vanjaar in Lady Grey plaasvind. Hy sou die 65km-wedloop aanpak.

Met die oefening het Devenish inmekaar gesak, waarna mediese hulp ontbied is. Hy is op die toneel dood verklaar.

Boodskappe van medelye het sedertdien op sosiale media ingestroom. Een boodskap lees: “Dan groet ek maar eers vir nou, Kenith. Dit is wat dit is. RIV.”, terwyl ‘n ander inskrywing lui: “RIP Kenith. Jy laat ‘n leemte in so baie mense se lewens. Trail running sonder jou kan nie meer dieselfde wees nie.”

Volgens vriende sal Devenish se vriendelike gesig in Virgin Active Noordstad en sy gewillige persoonlikheid om altyd te help, verseker gemis word.

Begrafnisreëling sal nog bekend gemaak word. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za