Donna gaan haar beste gee vir titel

0
809
Donna le Roux van Bloemfontein se visier is vandeesweek daarop gerig om haar titel te verdedig op die eerste van twee Cepha Tennis Junior ITF-toernooie in die Rosestad. FOTO: MORGAN PIEK

Die Bloemfonteinse tennisspeler, Donna le Roux, se visier is daarop gerig om haar titel te verdedig wanneer sy vandeesweek aan die Cepha Tennis Junior ITF-toernooireeks in die Rosestad deelneem.

Le Roux, ‘n leerder van die Meisieskool Oranje, het verlede jaar die internasionale toernooi gewen toe sy in die eindstryd van die meisiesenkelspel met 6-3 en 6-3 geseëvier het teen Celina Joseph.

Hoewel sy die kampioen is, sal dit geensins maklik wees om haar titel te verdedig nie. Inteendeel, dit sal moeiliker wees aangesien albei die toernooie – die J60- en die J100-toernooi – opgegradeer is na ‘n hoër vlak. Dit sal dus sterker en beter spelers na Bloemfontein lok.

Le Roux sal vanjaar ook aan die dubbelspel deelneem waar sy saam met Kaitlyn Ramduth en Morgan Jordaan sal speel.

Die dogter van die oud-Cheetahs en Springbok-stut, Ollie le Roux, het aan Bloemfontein Courant gesê sy verwag dat dit vanjaar aansienlik moeiliker sal wees, maar sy sal haar beste probeer om haar titel op haar tuisbaan te verdedig.

“As ons kyk na die inskrywings, is daar baie sterker kompetitsie vanjaar. Daar is ook baie meer oorsese spelers wat gaan speel,” het Le Roux gesê.

“Ek is in die hoofloting vir die toernooi, so ek gaan my beste tennis moet speel. Ek het darem ook goeie dubbelspel-vennote vir die toernooi. Ek speel saam met Kaitlyn Ramduth en Morgan Jordaan. Ek hoop dat ek my titel sal kan verdedig, ek sal my beste probeer.”

Die eerste van die twee toernooie in Bloemfontein begin Vrydag met die J60-toernooi by die Vrystaatse Tennisstadion.

Spelers van Suid-Afrika, asook Australië, Botswana, Burundi, Kanada, China, Chinese Taipei, Tsjeggiese Republiek, Denemarke, Egipte, Finland, Frankryk, Duitsland, Groot-Brittanje, Hongkong, Indië, Israel, Lesotho, Madagaskar, Namibië, Nederland, Portugal, Oekraïne en Zimbabwe sal meeding. – MORGAN PIEK