Donasiedae in LHP vir liefdadigheid

0
1218
Nerine Beukes van Tuinpark

Tuinpark Kwekery en Tuinsentrum in Langenhovenpark bied al ‘n geruime tyd ‘n boeremark elke Vrydagoggend aan, maar wil nou teruggee aan die gemeenskap deur Donasiedae aan te bied. Die Donasiedae sal ook op Vrydagoggende plaasvind.

“Ons het op Facebook gevra dat mense hul gunsteling-welsynsorganisasie benoem, en sover het ons vyf organisasies. Die organisasies is Lettie Fouché-skool, Angel Arms Uitkoms vir Kinders, Walkers South Africa, Athalia Uitreik en Guardian & Angel,” sê Nerine Beukes van Tuinpark.

Die eerste skenkingsdag sal op 29 April van 09:00 tot 13:00 plaasvind. Beukes het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te raak. “Help asseblief om hierdie organisasies te ondersteun. Pak jou kaste, motorhuis of pakkamer reg, sorteer uit en bring wat jy kan op 29 April na Tuinpark toe.”

Die ander skenkingsdae sal op 27 Mei, 17 Junie en 29 Julie plaasvind. Stuur ‘n Whatsapp na 066 234 0922 of e-pos tuinpark@mweb.co.za vir meer inligting oor Tuinpark se Donasiedae.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za