Dom vang sy baas

0
554
Socrates. Photo: Encyclopedia Britannica

Kyk, as jy dom is, is jy dom. Die probleem is net, hoe dommer jy is, hoe slimmer dink jy gewoonlik jy is. Jy weet nie dat jy nie weet nie.

Ja, ek ken die Sokratiese paradoks. Hy was ’n uitsondering. Hy’t mos gesê hy weet dat hy niks weet nie.

Mense se stommiteite is al wyd nagevors. Een van die bekendste studies oor onbevoegde individue se meerderwaardigheid is deur twee Amerikaanse sielkundiges, David Dunning en Justin Kruger, gedoen.

Hulle werk is so hoog aangeslaan dat hul name in die sielkundeboeke verewig is. Die Dunning-Kruger-effek beskryf onbekwame mense se interne illusie dat hulle hoogs begaafd is. Daar is ’n “verbeelde voortreflikheid”, ’n onvermoë om jou eie onvermoëns te verstaan.
Die huidge Amerikaanse president – kom ons noem maar nie name nie – is al male sonder tal die Dunning-Kruger-president genoem.

Een van die gevalle wat Dunning en Kruger in hul navorsing noem, is ’n bankrower genaamd McArthur Wheeler. Dié kêrel het iewers gehoor dat suurlemoensap as onsigbare ink gebruik kan word. Hieruit het hy die hoogs intelligente afleiding gemaak dat, as jy suurlemoensap aan jou gesig smeer, jy onsigbaar vir die sekuriteitskameras sal wees. Maklik. Twee en twee is vyf.

Bankrowers is nie gewoonlik ’n spesie wat die Einsteins van die wêreld laat wakker lê nie. Die FBI het in ’n stadium aangedui dat 75% van alle bankrowers hulself nie vermom nie, terwyl ’n volle 86% nooit ’n studie maak van die banktak wat hulle wil beroof nie.

Dit is byvoorbeeld nie ’n goeie idee om ’n bank naby jou ouerhuis te teiken nie. Vra maar die Kaliforniese knaap wat in sy ma vasgeloop het toe hy met sy rollie by die bank instorm. Sy het hom terstond aan die polisie oorhandig.

Moet ook nie die papiertjie wat jy vir die bankteller oor die toonbank stoot (“Ek het ’n rewolwer, gee my al jou geld”) onderteken nie. Of jou nota agter op ’n ou koevert skryf wat jou volle naam en adres voorop het nie. (Daar wás sulke gevalle.)

“Stupid is as stupid does,” het Forrest Gump gesê.

Albé Grobelaar