Doktorsgraad in die lewe

0
2659
Dr. Gilbert Gibson FOTO: ELSA VERMEULEN

Die term “Renaissance Man” word telkens gebruik om iemand te beskryf met vele talente. So ‘n persoon is definitief Bloemfontein se eie digter, dr. Gilbert Gibson.
Gibson was sy lewe lank ‘n Vrystater – ‘n tema wat herhaaldelik in sy werk opduik. Gebore en getoë in Marquard, is hy ná skool na die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy ‘n mediese graad suksesvol voltooi het, later sy diensplig gedoen het, en toe gespesialiseer het in Interne Geneeskunde. Hy het kort daarna by Rosepark Hospitaal aangesluit waar hy steeds werksaam is.

Die skryfgogga het vroeg al begin byt, veral omdat Gibson ‘n geesdriftige leser was. Maar dit was veral poësie wat hom betower het. Hy het al op skool begin rympies skryf en van sy poësie is toe al gepubliseer. Maar die muse kan partykeer ‘n lang pad stap voor sy ‘n mens besoek en, veral gefokus op sy loopbaan as suksesvolle dokter, was dit eers op die ryp ouderdom van 40 dat Gibson se eerste digbundel die lig gesien het. Boomplaats is ‘n verheerliking van alles Vrystaat; ‘n ode aan die dorre heimat van sy geboorte, met “stowwe wat jou wegwaai”. Maar die naam en poësie van Boomplaats is ook gegiet uit persoonlike geskiedenis – en oorlog. ‘n Voorsaat van Gibson, wat by die Slag van Boomplaats betrokke was, is ter dood veroordeel nadat hy op Sir Harry Smith geskiet het.

Hierdie digbundel sou uiteindelik die Protea-prys vir poësie wen – ‘n merkwaardige prestasie vir ‘n debuutbundel. Boomplaats word gevolg deur Kaplyn (2007), waar Gibson weer terugkeer na oorlog as tema. Die woord “kaplyn” is eintlik ‘n militêre term, ‘n oopgeskraapte stuk grond waar jy die vyand se spoor soek. Hierdie digbundel word gevolg deur Oogensiklopedie (2009) en vii (2013). In 2015 publiseer hy Vry wat die Elizabeth Eybers-prys sowel as die Suid-Afrikaanse Letterkundeprys vir poësie ontvang. In Vry keer Gibson weer eens terug na sy gunstelingtemas; die Vrystaat, religie, geskiedenis, ens. Wanneer ek hom uitvra oor die kritiese sukses van Vry, en sy sukses in die algemeen, sê hy, “Dit gaan nie soveel oor vaardighede nie, slegs hoeveel tyd jy insit en jou deursettingsvermoë.” Hy haal Warren Buffet aan: “It’s not the timing of the market, it’s the time in the market”.

Maar wat van die hede … en die toekoms? Dié dokter het definitief geen planne om “af te tree nie”. Gibson is juis besig met sy volgende bundel. Hy is ook ‘n gelisensieerde loods en besit sy eie Cessna-vliegtuig. Hy speel kitaar en hy skilder. Hy beplan om aan te hou skryf todat hy “kordaat kan sterf/ … & my liefde/ ter laaste in die langste gras/ my die hart kan gee/ vir die eb & die oorvloei van die see”.

Vernon Bauman
info@bloemfonteincourant.co.za