Doen weg met kommissie betalings

0
Doen weg met kommissie betalings

Dit is hoog tyd dat daar weggedoen word met kommissie betalings deur korttermynversekeraars aan makelaars en ander tussengangers. Hoekom kan ook hulle nie net vergoed word deur hul kliënt, die polishouer, in verhouding tot sodanige werklike dienste wat werklik verrig word nie? Op die oomblik word tussengangers ten koste van polishouers beskerm, nieteenstaande alle wetgewing en maatreëls wat kwansuis die polishouer beskerm.

Versekeraars behoort verplig te word om slegs netto premie te kwoteer en dat die polishouer self besluit watter dienste benodig word en wat dit vir hom/haar werd is. Die kaf sal dan vinnig van die koring geskei word.  Makelaars wie hul sout werd is, hoef niks te vrees nie en sal daar altyd ’n aanvraag vir hul dienste wees. Wat maak makelaars verhewe bo ander professies waar vergoeding geskied op ’n fooie basis betaalbaar deur die kliënt en in ooreenstemming met die werklike diens gelewer? Die omvang van huidige diens is ’n klug!

Dit is hoogtyd dat die Registrateur van Versekering en al die Rade en gesaghebendes bykom en ook hierdie bedryf finaal skoonmaak.

BEN GROENEWALD
FICHARDTPARK

No posts to display