Doen jou begroting; bly by jou begroting

0
1199
Photo: tfgclubmagazine.co.za

Verlede week het ons gesê jy moet jou finansiële beplanning regoor die jaar versprei. Hanteer elke maand ‘n gedeelte van jou beplanning. Sodoende sal jy dit makliker kan hanteer en gaan dit nie so intimiderend wees nie.

Ek het verlede week genoem dat dit wys sal wees vir jou om sommer nog in Januarie jou begroting op te trek as deel van jou groter finansiële beplanningsproses. Ek het reeds paar navrae gehad rondom die optrek van ‘n huishoudelike begroting, en dit blyk dat baie mense nie seker is waar om te begin en wat om op die uiteinde te bereik nie.

Ek dink die belangrikste is om dit eenvoudig te hou. Trek ‘n stuk papier nader of maak die Excel-program op jou rekenaar oop en trek twee kolomme op – een vir inkomste en een vir uitgawes. Skryf jou inkomste in die inkomstekolom neer. Maak sommer ook paar notas van planne wat jy kan beraam om jou inkomstekant meer te maak.

Jou uitgawekant kan jy dan in ‘n verdere twee kolomme verdeel – een vir noodsaaklikhede en een vir nie-noodsaaklikhede en luukshede. Noodsaaklike uitgawes sal jy nie sommer uit jou begroting kan elimineer nie. Jy kan egter op dit probeer spaar. Dink maar aan jou brandstofrekening, kosuitgawes, water en ligte, ensomeer. Dié tipe uitgawes gaan in die toekoms steeds daar wees, probeer hulle egter deur beter beplanning bietjie te sny.

Aan die kant vir noodsaaklike uitgawes moet jy ‘”Spaar-item” inbring, en ‘n bedrag daarvoor allokeer. Aan die kant vir nie-noodsaaklikhede, behoort jy heelwat geldtjies te kan afknyp – rook minder, verkeer minder sosiaal, gradeer jou DStv-pakket af, koop minder wegneemetes, ensomeer. Die geld wat jy in jou nie-noodsaaklikhede-kolom wegneem, kan help om die “Spaar-item” op jou noodsaaklikhede-kant te finansier.

Bogenoemde is ‘n wenk van hoe om ‘n eenvoudige begroting op te stel. Jy hoef ook nie alles in maand een in plek te hê nie. So kan jy byvoorbeeld elke maand een item van jou lysie vir nie-noodsaaklikhede verwyder of verminder. Mettertyd kan jy ook jou begroting meer gedetailleerd maak deur in plaas van net “vleis” onder die uitgawekant te lys, dit op te breek in “rooivleis”, “varkvleis”, “hoender”, “vis”, ensomeer.

Dit sal jou kan help om jou etes meer koste-effektief te beplan, en slimmer aankope te doen. Breek ook so die ander items aan jou uitgawekant op in kleiner eenhede. Dit sal jou help om goedkoper alternatiewe te vind vir dit wat jy tans gebruik.
Ek hoop die wenke help en dat jou begroting in 2020 sal klop.

Horace Terry
horace@nassaux.com