Doeksakprojek steun behoeftige mamma’s

0
940
Alle behoeftige mammas sal baat by die nuwe doeksakprojek

Daar is uiteindelik lig aan die einde van die tonnel vir behoeftige swanger vroue. Solidariteit Helpende Hand se Bloemfontein-Omgeetak het met ‘n blink nuwe doeksakprojek vorendag gekom om behoeftige swanger vroue by te staan.

Dié idee is die breinkind van Lorna Wolvaardt, ‘n vrywilliger by Solidariteit Helpende Hand. Wolvaardt vertel die rede vir haar aansluiting by Solidariteit Helplende Hand is omdat dié organisasie weet waar hulp en steun benodig word. Sy loop al baie lank met die idee vir haar projek, maar het eers onlangs besluit om dit aan te pak.

Die projek steun mammas wat geboorte in staatshospitale skenk. Wolvaardt vertel dat wanneer sulke ma’s in ‘n privaat hospitaal kraam, hulle ‘n pragtige doeksak met ‘n klomp basiese benodigdhede daarin van die hospitaal af ontvang. “Die ma’s in die staatshospitale het so ‘n sak net so broodnodig saam met die basiese goedjies om na hul babas om te sien, maar hulle ontvang nie noodwendig so sak nie.”

Die projek lê vir Wolvaardt baie na aan die hart aangesien sy soveel omgee vir mammas en hul babas en altyd ‘n hand wil uitsteek om te help. Die doeksakartikels bestaan uit ‘n toedraaikombersie, pluisstofkombersie, handdoek, waslappie, chirurgiese spiritus, oorstokkies, watte, vaseline, poeier, boudsalf, babasepie, babaroom, babaolie, spoegdoek, pasgeborebaba-doeke, wet wipes, eenstuk-kledingstukke, frokkies, kousies en krampwater.
Daar sal ook vir die nuwe mamma iets kleins bymekaargesit word soos ‘n waslap, sanitêre doekies sowel as borsdoekies. Enige persoon wat ‘n bydrae wil maak, kan gerus vir Lorna by 082-371-9780.

As dit nie moontlik is om ‘n hele doeksak bymekaar te sit nie, kan individuele artikels by Solidariteit Helpende Hand se streekkantoor in Kellnerstraat 58C afgegee word.

JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za