Dit is weer tyd vir die 4Peaks

0
168
Die koning van die berge, Thabang Madiba, is die verdedigende 4Peaks-manskampioen in die normale bergwedloop sowel as die "Reverse". Madiba is tot dusver die enigste atleet wat albei roetes kon wen en hy is ook die rekordhouer in altwee. FOTO: CRAIG KOLESKY/NIKON/LEXAR

Die 2019-Trappers 4Peaks-bergwedloop, aangebied deur Bloemfontein Courant, vind die naweek by die pragtige Moolsmanshoek- private natuurreservaat tussen Ficksburg en Fouriesburg in die Oos-Vrystaat plaas. Die gewilde bergwedloop het vanjaar meer deelnemers as verlede jaar gelok en sal weer eens vele deelnemers se staal deeglik toets.

Die nagenoeg 24-km-roete sal vanjaar ook weer ‘n “Reverse” wees, soos wat dit bekend staan. Die beteken dat die atlete eerste die berugte Sekonyela’s Hat sal aandurf in plaas daarvan om die Piramiede te pak.

Van die deelnemers verkies egter om die “Reverse” te doen en voel dat dit effens makliker is aangesien die eerste sowat 7 km van die roete taamlik plat is voordat die harde klimwerk begin. Met die gewone roete begin die klimwerk reeds sommer vroeg.

Daar word vanjaar baie goeie weer vir die 4Peaks voorspel, maar die feit dat dit ‘n bergwedloop is, maak dat toestande baie vinnig kan verander. Atlete sal baie goed voorbereid moet wees en veral seker maak dat hulle die regte toerusting en genoeg water tot hul beskikking het. Omrede dit nog baie droog op die plaas is, is daar geen manier om water op die roete te vind nie en is dit van uiterse belang om die aanbevole 3-liter-water, en dalk ook ‘n bietjie ekstra, saam te dra.

Adrian Saffy van Pure Adventures het aan Bloemfontein Courant gesê met die warm, droë toestande is ontwatering ‘n bron van kommer.

“Dit lyk asof dit nogal warm sal wees oor die naweek en die droë toestande sal die uitdaging aansienlik moeiliker maak. Met vanjaar, wat ‘n “Reverse”-roete is, is die deelnemers geneig om te vinnig te begin aangesien die eerste 7 km taamlik plat is. Dit kan daartoe lei dat ontwatering ‘n probleem kan wees, maar ons sal dit Vrydagaand voor die wedloop met die deelnemers bespreek.”

Saffy deel ook dat die geheim van die “Reverse” is om nie te haastig wees nie, veral aan die begin.

“Die deelnemers sal moet slim beplan. Hulle sal moet seker maak dat hulle nie te vinnig begin nie. Hulle moet maar rustig wees tot verby die eerste kontrolepunt, Sekonyela’s Hat. Sodoende sal hulle nog vars wees vir die res van die roete, en dit is ook beter om die wedloop sterker te eindig.”

Die 4Peaks bied ook vanjaar ‘n 10-km-roete aan en sal Sondag ‘n bergfietswedren aanbied. Die 10-km-roete sal aansieklik makliker wees aangesien dit nie oor die berge gehardloop word nie, en die bergfietswedren sal met ‘n 25-km- en 50-km-roete aangeduf word.
Saffy sê dat die twee nuwe items vanjaar baie belangstelling gelok het en dat daar iets vir almal is om te geniet.

“Ons sien regtig uit na die naweek. Ons het ‘n goeie getal atelete wat ingeskryf het, meer as verlede jaar. Die 10-km-wedloop is nogal populêr en sal ‘n gemerkte roete volg. Dan is daar ook die bergfietswedren wat Sondag sal plaasvind. Dit het ook baie belangstelling gelok. Ek is seker dat dit sommer vir almal lekker sal wees in die berge oor die naweek.”
Registrasie vir die wedloop vind Vrydagmiddag en -aand by Moolmanshoek plaas, met die wedloop wat Saterdagoggend vroeg begin. – MORGAN PIEK