Dit is belangrik om te onderskei tussen IT en web in besigheid

0
648

Servaas de Kock

Dit is seker een van die grootste grys areas in besigheid. Die aanname wat baie besigheidseienaars maak, is dat IT-personeel die regte personeel is om hulle webbehoefte aan te spreek. In baie gevalle is dit 100% die teenoorgestelde. Oor die algemeen is IT-mense meer gefokus op stelsels en hoe dinge funksioneer en bitter min ingestel op interaksie met mense. Hierdie groep mense hou nie daarvan om baie met mense te werk nie en sal eerder voltyds aan ‘n rekenaar of met ‘n rekenaar werk.

Wanneer ‘n webstrategie geïmplementeer word in ‘n besigheid het mens ‘n totaal ander vaardigheidsbehoefte ten opsigte van die individu. Hierdie individu moet nie soseer tegnies sterk wees nie, maar moet die vermoë hê om met mense te kan werk en seker te kan maak dat die webstrategie reg geïmplementeer word. Bemarkingskennis is ook sentraal tot hierdie posfunksie. Buiten die implementering van die strategie, moet veranderingbestuur geïmplementeer word onder die personeel en ‘n persoon met beperkte menseverhoudinge gaan baie sukkel op hierdie gebied.

IT-personeel kan die regte infrastruktuur skep om te kan funksioneer, maar om jou webstrategie effektief te implementeer, moet ‘n mens ‘n baie effektiewe besigheidsbestuurder aan boord hê.  ‘n Rekenaar word op die ou einde maar net gebruik om by ‘n webtuiste uit te kom. Hoe effektief jy die internet gaan gebruik en die voordeel wat jy daaruit gaan trek, gaan direk verband hou met wat jou besigheid se webstrategie is en hoe effektief dit geïmplementeer is.

*De Kock is die algemene bestuurder van Digital Platforms, webtuiste en ontwikkelingspesialiste.