Dis weer tyd vir Braaifees

0
903
Dr. Nathan Bagarette FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

“Ons glo, ek glo, dat musiek regoor die wêreld gebruik is om boosheid aan te spreek,” sê dr. Nathan Bagarette, organiseerder van die gewilde Braaidagvieringe. Braaidag bied ‘n platform vir baie nuwe sowel as gevestigde uitvoerende kunstenaars en is gerig op familietyd, goeie musiek, die bou van verhoudings, om die publiek op te voed oor dwelmmisbruik en hulp aan behoeftiges te bied.
Bagarette sê die aanvanklike idee het ontstaan toe hulle besef het dat plaaslike kunstenaars verwaarloos word en dat hulle ‘n platform nodig het. Die gedagte was om vir hulle ruimte te skep om hul talente te toon iets daarmee te verdien. Die dag fokus nie net op die ontwikkeling van die kunstenaars nie, maar spreek ook dwelmmisbruik aan. “Ons hoofdoel is om kunstenaars te ontwikkel, dwelmmisbruik aan te spreek, en terselfdertyd werk te skep.”
Vanjaar se kunstenaars wat hul musiek en raad op die Braaidagvieringe gaan deel, is onder andere Emo Adams, Early B en Shaxe Kumalo. “Die kunstenaars kom uit gebiede waar dwelms ‘n baie groot rol speel in hul gemeenskap en dieselfde gebeur met ons. Dwelms raak feitlik elke jongmens se lewe en ons wil dit aanspreek,” sê Bagarette.
Vanjaar se Braaidag word geborg deur die Nasionale Lotery-kommissie en sal plaasvind op 15 Desember 2018. Van 12 tot 14 Desember sal Baobab Entertainment werksessies hou om plaaslike kunstenaars wat optree, te help en te onderrig. Bagarette sê dat hulle die ondersteuning van professionele kunstenaars kry, wat plaaslike kunstenaars help met aspekte soos hoe om hulself op die verhoog aan te bied tydens optredes. Hy het namens Baobab Entertainment die Nasionale Lotery-kommissie bedank vir ondersteuning van die inisiatief. “Dit is deur hulle borgskap dat ons ‘n gebeurtenis van hierdie omvang kan aanbied.” – Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za