Dis feestyd in die Rosestad

0
921

Bloemfonteiners is tans besig om hul vere reg te skud vir een van die grootste geleenthede op die jaarlikse vermaaklikheidsagenda.

Met ‘n splinternuwe baadjie beloof vanjaar se Vrystaat Kunstefees weer eens om net die beste uit Suid-Afrikaanse teater voor te sit.

Die fees vind vanjaar van 13 tot 18 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaas.
Volgens Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees, is dit vir hom ongelooflik om te sien hoe Afrikaanssprekende gemeenskappe uit verskillende agtergronde oor die afgelope dekades hande vat om diverse werke vir ons land te ontwikkel. "Die Vrystaat Kunstefees sal voortgaan om op hierdie taal-spesifieke produksies te fokus en dit te ondersteun, en Afrikaans te onderhou en te laat groei.

"Die belangstelling in die werk wat ons hier in die hart van die land doen, sal oor die volgende paar jaar bly groei namate ons nuwe maniere vind om kultuur te behou en versoening met ander te koester. Ons leef in opwindende tye. Ek is ongelooflik trots daarop dat ek die eerste direkteur van die Vrystaat Kunstefees kan wees," sê Peach.

Vanjaar se fees bied weer iets vir ‘n ieder en ‘n elk. Op die musiekspyskaart kan feesgangers uitsien na name soos Amanda Strydom, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock, Jak de Priester, Zanne Stapelberg, Elvis Blue, Bobby van Jaarsveld, Chris Chameleon, Nianell en Rocco de Villiers.

Vir die ernistige teaterganger is daar ‘n hele paar uitstekende produksies wat nie misgeloop moet word nie.
André P. Brink se roman Bidsprinkaan is deur die bekroonde dramaturg Saartjie Botha vir die verhoog verwerk. Bidsprinkaan is op ‘n ware verhaal gegrond en is ‘n storie vir alle Suid-Afrikaners.

PG du Plessis se Hertzogprys-bekroonde 1971 drama Siener in die suburbs herleef vanjaar weer op ‘n Bloemfonteinse verhoog. Dit speel af teen ‘n agtergrond van maatskaplike verval, maar die fokus bly op die komplekse onderlinge menseverhoudings. Met name soos Shaleen Surtie-Richards, Christo Davids, Brendon Daniels, Ivan Abrahams, en Crystal-Donna Roberts in die rolverdeling beloof hierdie stuk om die gehoor weer op die punt van hul stoel te hou.

Nog ‘n gevierde teks wat op vanjaar se fees in Afrikaans te sien is is Edward Albee se Wie’s bang vir Virginia Woolf? soos deur Saartjie Botha vertaal. Hierdie emosioneel gelaaide stuk met Sandra Prinsloo en Marius Weyers in die hoofrolle beloof om toneelspel op sy beste te wees.

Oudergewoonte is die gewilde maltrap Marion Holm by die fees met haar nuwe produksie Die Kaap is weer Holms.
Ná die sukses van die-hoe-se-wat-se-wie-nou-weer? is Bertie en Alfrieda Botha terug, in Die Wagkamer, geskryf deur Saartjie Botha. Elize Cawood en Wilson Dunster is in dié produksie in nog ‘n treffer-tragi-komedie te sien.

Die Woema van ‘n Windgat Wyfie gaan beslis Suid-Afrika verower. Dit volg in die voetspore van die gat-trilogie (Windgat, Banggat en Jou gat my Skat!). Dit bekyk die mensdom en verhoudings vanuit die perspektief van die windgat, en spesifiek die windgat-vrou. Jy herken jouself en jou medemens in die lewensgetroue situasies. Dit steek die draak met, maar gee ook hoop, vir al die gatte daar buite en wat anders kan jy van ‘n gesoute aktrise soos Shaleen Surtie-Richards verwag?

En as hierdie voorsmakie jou nog nie ‘n aptyt vir die fees gegee het nie, maak seker dat jy die volledige program op die fees se webtuiste (www.vryfees.co.za) gaan kyk. Die program sluit heerlike woordkuns-aanbiedinge in sowel as kinderteater vir die jongklomp, en ‘n boeke- en filmfees wat aan die grootste kritici se vereistes voldoen.
Skud daai feesvere reg – hier kom ‘n ding!