‘Dinamiese produk met puik balans’

0
217
Irma Green

Plaaslike koerante wêreldwyd is steeds stewig geanker in hul gemeenskappe. Hierdie interessante tendens word elke jaar by die World Association of Newspapers (WAN) se konferensie deurgetrap en bespreek.

Die rede hiervoor is dat dié koerante steeds tot die hart van gemeenskappe spreek en deur hul lesers vertrou word.

Van die wêreld se bekendste koeranttitels het reeds hul inhoud-resep begin aanpas om meer mensestories en plaaslike kwessies aan te spreek. By Bloemfontein Courant word dít alreeds vir die afgelope 10 jaar gedoen, met groot sukses.

Week na week publiseer dié dinamiese span ‘n produk wat ‘n goeie inhoudbalans handhaaf tussen die meer ernstige kwessies, gemeenskapsnuus, skolebrokkies, sport en vermaak. Op Courant se webwerf kan lesers onmiddellik vars nuus kry en inhoud wat gepubliseer word, moet getoets wees om seker te maak dat fopnuus nie deurglip nie.

As advertensiemedium bly plaaslike koerante steeds ‘n aanloklike aanbod juis omdat dit tot so ‘n wye mark spreek. Of jy ‘n skoolkind is wat weens jou prestasie in die koerant verskyn of ‘n sakeman wat ‘n toekenning ontvang het – daardie berig word uitgeknip en gehou. Die waarde van ‘n gedrukte medium word hierdeur duidelik benadruk.

My beste wense gaan aan die Courant-span wat ‘n wonderlik werketiek volg en vernuwing met ope arms aanpak. Mag julle koerant, webwerf en vele projekte soos Best of Bloemfontein van krag tot krag gaan. – Irma Green, Nasionale Groepredakteur: Caxton- Plaaslike Koerante.