Diewe gaps skool se duur witbord

0
3993
'n Interaktiewe witbord soos hierdie een is verlede week by die Laerskool Heide in Heidedal gesteel.

Die nuutangestelde hoof van die Primêre Skool Heide in Heidedal, John Page, het ‘n pleidooi aan die gemeenskap gerig om op te staan teen die vlaag van inbrake in die gemeenskap.
Dit kom nadat diewe verlede Donderdagaand by ‘n klaskamer van die skool ingebreek het en met ‘n interaktiewe witbord van R78 000 laat spaander het.
Die witbord is reeds ‘n week of twee voor die inbraak deur die skool gebruik om leerlinge in graad 6 en 7 in wiskunde te onderrig.
“Ons skool is hier om ‘n positiewe impak op die lewens van ons jongmense te maak, maar ons word om elke hoek en draai gepootjie deur voorvalle soos hierdie. Honderde leerlinge word daardeur benadeel. Om nie eers te praat van die ure se werk wat nou daarmee heen is nie, aangesien die onderwyser al sy voorbereiding op die witbord gedoen het.
“Ons vra die gemeenskap om ons te help deur op die uitkyk te wees vir die witbord. Die diewe kan dit aan niemand anders as ‘n ander skool of onderriginstelling verkoop nie. Ek vermoed hulle het gedink dit is ‘n plasmatelevisie,” se Page.
Hy se daar is ook nog baie vrae oor waar die skool se sekuriteitswagte was ten tyde van die inbraak. Volgens die wagte was daar niks fout toe hulle oudergewoonte om 22:00 hul rondtes gedoen het nie. Toe hulle egter om 23:00 gaan ondersoek instel het, het hulle agtergekom dat daar by ‘n klaskamer ingebreek is en dat die diewe met die witbord verdwyn het.
Page sê die polisie het die volgende oggend vingerafdrukke op die toneel gevind, maar niemand is nog in hegtenis geneeem nie.
Enigiemand met inligting oor die voorval, kan die polisie by 10111 of die skool by 051-432-3491 bel. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za