Dierevergiftiging: Misdaadgedrewe of nydige buurman?

0
1987
Die twee Skotse terriërs wat die afgelope Sondag vergiftig is.

Dit is deesdae niks nuuts dat misdaadsyfers voortdurend styg en misdaad op verskillende maniere gepleeg word nie, maar in die Rosestad wil dit voorkom asof dit die nuutste gier geword het om huisdiere te vergiftig en dan later toe te slaan.

Talle Bloemfontein Courant-lesers wie se honde wreed aan hul einde gekom het, sowel as Reinet Meyer, bestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV), het bevestig dat hulle vermoed misdadigers vergiftig diere, veral honde, en dan word daar ‘n week of twee later ingebreek by dié eienaars se huise. Dit kan ook gebeur dat so ‘n wreedaard nader aan jou woon as wat jy dink.

Daar het onlangs ‘n voorval in Langehovenpark plaasgevind waar ‘n inwoner se diere vergiftig is. “Ek het drie honde en my twee Skotse terriërs het gif, wat as Timik geïdentifiseer is, ingekry. Ek sal nooit die beeld en die geluide van my sterwende honde uit my gedagtes kry nie,” het Corni Fourie, inwoner van Langenhovenpark, vertel. Nadat Fourie dié traumatiese gebeurtenis beleef het, het sy met ‘n veearts en met die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gepraat oor die voorval. Volgens die GPF is die motief in hierdie geval nog onduidelik.

Die braaksel, wat volgens ‘n veearts aangedui het dat die honde met Timik vergiftig is.

Henk Smit van die GPF het twee redes geïdentifiseer waarom honde vergiftig word, naamlik moles met die bure en dan natuurlik as die honde in die pad van mense met slegte planne staan.

‘n Woordvoerder van Brandwag Dierehospitaal is dit eens dat dierevergiftiging baie keer die daad van ‘n buurman of -vrou is.

Fourie en haar kind is uiters getraumatiseer. “Die gevolg is dat ek en my seun in vrees leef. Ons vrees vir ons oorblywende hond se lewe. Die trauma is bitter erg vir gesinne wat met so iets te doen kry,” het sy verduidelik.

Fourie se raad aan hondeienaars is om dreigemente van hul bure in ‘n baie ernstige lig te sien en nie af te maak as niks nie. “Maak seker jou honde is by jou in die huis indien jy bure het. Jy moet ook seker maak dat as jy jou honde op dié wyse verloor, jou erf beter beveilig is.”

Volgens die GPF moet mense bewus wees daarvan dat indien die vergifitiging misdaadgedrewe is, jy moet onthou dat mense wat wil inbreek of ‘n kar steel, nie onverwags optree nie. Hulle teiken vooraf spesifieke huise vir ‘n spesifieke rede.

Die vraag wat nou gevra word, is: As jou honde in jou erf iets oorkom, is dit jou buurman of is dit misdaadgedrewe? – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za