Dierelisensies dalk binnekort nodig

0
708

OWEN KOCK

Diere-eienaars sal binnekort moontlik moet opdok vir die aantal diere wat hulle by hul huise aanhou indien wetgewing deur die Mangaung-metro-munisipaliteit deurgevoer word.

Courant verneem die munisipaliteit is van plan om weer dierelisensies in te stel, wat beteken daar gaan ‘n heffing op elke dier op ‘n erf geplaas word. Dié voorgestelde wetgewing kan verreikende gevolge hê en indien die munisipaliteit dit suksesvol toepas, sal dit sy begroting ‘n stewige hupstoot gee. So ‘n stap sal beteken dat mense twee keer sal dink oor hoeveel honde hulle wil aanhou, tensy hulle gereigistreerde telers is. Dit kan ook meer verantwoordelike diere-eienaars tot gevolg hê.

Volgens Reinette Meyer van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) kan dit ‘n goeie ding wees, maar dan moet dit gereguleer word. "Dit kan beslis haalbaar wees, maar die munisipaliteit sal uitsluitsel moet gee oor hoe presies dit sal werk en wie daarvoor verantwoordelik sal wees. In die verlede het watermeterlesers hondelisensies nagegaan wanneer hulle waterlesings moes neem.

"As so ‘n funksie byvoorbeeld aan die DBV toevertrou word, sal dit ons ook sommer help om dieremishandeling vroeg te voorkom en dan verwelkom ons graag die voorgestelde wetgewing," het Meyer aan Courant gesê.

Sy voel die persoon of persone wat aangestel word om dit te reguleer, sal egter die werk moet kán doen. DA-raadslid Rossouw Botes het aan Courant gesê tydens die eerste publiekedeelname-vergadering Maandagaand in Bloemfontein, het die gemeenskap eenstemmig gevra dat daar nie hondebelasting gehef word nie.

"Die publiekedeelname-proses het nou begin en daarna sal alles beoordeel moet word voordat dit voor die raad gelê sal word vir goedkeuring. Daar is heelwat munisipale regulasies wat ter sprake is, maar alvorens die proses afgehandel is, sal ons moet wag om te sien wat gebeur," het Rossouw bygevoeg.
Courant kon tot dusver nie terugvoer van die munisipaliteit kry nie.

owen@centralmediagroup.co.za