Diere sterf té vinnig uit

0
3472

Lani Fouché

Die uitsterwing van dierespesies gebeur deesdae teen ’n snelle tempo. Menslike inmenging keer die ekostelsel op sy kop en kan verpletterende gevolge hê, mits daar nie dringend ingegryp word nie. Dié kwessie het onlangs aan die lig gekom met die voorstel vir die ontwikkeling van ’n windplaas by Letseng in Lesotho. Dit kan die plaaslike bevolking van die Kaapse- en Baardaasvoëls bedreig. ’n Windplaas is ’n gesamentlike groep windturbines wat van windenergie gebruik maak om krag op te wek. Die een wat vir Letseng beplan word, sal 42 turbines hê. In Noorweë het windplase veroorsaak dat 95% van die plaaslike Witstertaasvoëls met die turbines se lemme doodgeslaan is. Samantha Ralston van Bird Life South Africa sê aasvoëls moet beskerm word omdat hulle ’n belangrike rol in die ekostelsels speel. “Die Baardaasvoëls is ’n bedreigde spesie in Suid-Afrika, maar kom nog in Etiopië voor. Die Kaapaasvoël kom nét in Suid-Afrika voor.”

Dierespesies oor die algemeen sterf deesdae teen ’n onnatuurlike spoed uit.  Professor Jo van As van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Dierkunde en Entomologie sê die uitsterwing van diere- en plantespesies is ’n natuurlike proses, maar menslike inmenging keer dié proses op sy kop. “Alle spesies sterf op een of ander stadium uit. Ons het die twintigste eeu binnegegaan met meer spesies op aarde as ooit tevore. Maar al daardie spesies saam is maar net 1% van alles wat al voorheen gelewe het.  Die res het almal uitgesterf.

Die menslike bevolking het sedert die twintigste eeu oor sy kritiese massa gegaan – ons is eenvoudig té veel. Dit wat ons alles kollektief aan die aarde doen is te groot en te veel.” Hy sê biodiversiteit sterf uit teen ’n groter tempo as ooit tevore. Maar wat kan ons in ons alledaagse lewe doen om hierdie verwoestende proses om te keer? Van As meen dit maak ’n groot verskil om net jou stem te laat hoor. “Jy moet die onderwerp aanraak waar ookal jy gaan.  Jy kan dit doen by die maatskappy waar jy werk. Jy kan dit in jou eie tuin doen deur inheemse plante te plant en ontslae te raak van allerhande uitheemse plante.  Dan sal jy ook sommer die natuurlike insekte wat daar hoort laat terugkom.” Hy sê verder dat mense moet ophou om oormatige gifstowwe te gebruik. “Dit gaan ook baie meer water-ekonomies wees. Ons moet ’n paradigma-verskuiwing ondergaan in ons leefwyse.”