Dier- en plantlewe in Langenhovenpark só bewaar

0
223
Voorsitter van Prosody Delmont Conservancy, Jan Hendrik Cronjé. FOTO: VERSKAF

Prosody Delmont Conservancy (PDC) is gestig vir die bewaring van die dier- en plantlewe in en om Langenhovenpark se koppies. Dit is ook gemik op die beskerming van die omgewing, spesifiek die koppies.

Langenhovenpark bestaan grootliks uit koppies en leë grond – daarom het die PDC die noodsaaklikheid geïdentifiseer om die heuwels of koppies te omhein. Die strate Sangiro en Grosskop is volledig omhein. Die koppies langs W.E.G. Louw, Jan Brand en Boerneef benodig nog meer omheining, maar is gedeeltelik omhein.

Die voorsitter van die PDC, Jan-Hendrik Cronjé, het genoem dat die PDC tans besig is om die nodige fondse in te samel vir die omheining en daarna ’n struktuur wil vestig wat die jaarlikse instandhouding en fooie kan bestuur op dieselfde basis as Sewe Damme.

“Daar was voldoende vergaderings met parke en regsdienste. Ons wag tans net daarop dat die item deur die burgemeester na die raad gebring word voordat toegangsbeheer by die hekke toegepas kan word,” het hy verder bygevoeg. Daar is ook die gevaar van mense wat onwettig die grond beset en strukture in die koppies oprig. Hulle bou hierdie strukture deur plastiek om die bome en bosse te bind.

Wykraadslid Dulandi Leech het genoem dat die polisie bewus is van hierdie onwettige nedersettings en weet dat sommige van hierdie mense betrokke mag wees by ernstige kriminele aktiwiteite, en daarom kan een van die langtermyn-oplossings wees om die oop ruimtes te omhein.

Die grondwet en alle regsdokumentasie is reeds opgestel en ingedien by die munisipaliteit. Aangesien dit nie ’n politiese projek is nie, kan lede van die publiek wat wil deelneem en help, Cronjé kontak op 062-517-8177.

 

Abigail Visagie

abigail@mahareng.co.za