Diefstal van standbeeld teleurstellend sê uitvoerende hoof.

0
444

CHRISTAL-LIZE MULLER

Uitvoerende hoof van die Nasionale Erfenis Projek (NHP), Dali Tambo, sê die diefstal van die standbeeld van die voormalige Koi-San stamhoof, David Stuurman, in die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein se tuin is uiters teleurstellend.

Volgens Tambo is die standbeeld, wat sowat 350 kg weeg en deur die Suid-Afrikaanse beeldhouer, Keith Calder, gemaak is, ‘n pragstuk kuns wat deel van die land se ryk erfenis vorm. Hy sê Stuurman se standbeeld simboliseer sy stam se geskiedenis. Hy doen ‘n beroep op die booswigte wat die standbeeld gesteel het om dit spoedig terug te bring, omdat die standbeeld by die res van die vryheidsvegters se standbeelde hoort.

Die standbeeld ter waarde van R500 000 is onder sowat 20 ander standbeelde van ANC stigtersikone wat deel vorm van die nasionale erfenis projek by Oliewenhuis. Tambo sê die voorval word in ‘n ernstige lig beskou. Die polisie asook die betrokke veiligheidsmaatskappy en die museum werk nou saam om die booswigte op te spoor. Intussen is die museum se veiligheid ook opgeskerp.