Die waarde van stilte

0
3168

Die nuwe jaar is voluit aan die gang. Ons is besig en elke dag is gevul met besluite en nuwe moontlikhede.
Ons kan met reg vir mekaar sê dat die jaar ook weer baie van jou en my gaan vra. Dit is asof ons die stilte en oomblikke van rus in die vakansie heeltemal verloor het. Ons is besig en stel doelwittte vir die nuwe jaar.
Jesus ervaar die uitdagings van om met mense te werk. Groot groepe mense volg Hom en wil hoor watter boodskap Hy vir hulle het. Siekes staan tou, want hulle het gehoor van Sy gawe om mense gesond te maak.
Skielik gryp die teks my in Markus 1 vers 35: “Jesus het na ‘n eensame plek gegaan en daar gaan bid.” Jesus besef die waarde van stilte en eenkant wees. Hy maak tyd om met Sy Vader te praat.
In die besige roetine van die lewe is dit dalk juis ons uitdaging – ‘n oomblik van stilte, tyd om te bid en net jou gedagtes te fokus op die dinge wat sin maak in die lewe.
Dit is so belangrik aan die begin van die jaar – ‘n oomblik van stil-wees! Maak tyd hiervoor en koester dit! – Ds. Stephan van Heerden