Die waarde van goeie advies

0
776

HORACE TERRY

Dit is maklik om advies te kry, maar dis heelwat moeiliker om goeie advies te kry. So is daar ook altyd heelwat persone gereed om jou met advies te bedien oor jou finansies en algemene finansiële beplanning; gewoonlik met katastrofiese gevolge. Baie persone glo hulle het voldoende kennis om sommer hul eie finansiële advies te behartig en dit is gewoonlik die persone wat dan besigheid doen met maatskappye wat direk hulle dienste rakende korttermynversekering en lewensversekering aan die publiek bemark. Daar is seker niks fout daarmee om direk met die tipe maatskappye besigheid te doen nie, maar jy sal jouself eers ‘n paar vrae moet afvra voor jy soiets doen.

 Eerstens spring jy van die eerste stap in die finansiële beplanningsproses na die laaste stap. Wat van al die waardevolle stappe tussenin? Hoe het jy besluit oor die versekerde bedrae waarvoor jy ‘n polis uitneem? Hoe seker is jy dat die versekering omvattend genoeg is? Is jy nie dalk nou oor- of onderverseker nie? Wie het jou gehelp om die regte besluite te neem? Weet jy presies wat dit is wat jy so oor die foon uitgeneem het? In die ‘ou dae’ was alles eintlik soveel makliker en meer eenvoudig. Dit was veel moeiliker om jouself verkeerde advies te gee. Vandag lyk die prentjie heelwat anders.
 
Daar is nou soveel verskillende versekeringsvoordele, elkeen met sy unieke eienskappe. Moenie dat enigeen jou vertel dat jy nog ‘n one size fits all-polis of belegging kry nie. Dit is nou hier waar die waarde van advies duidelik sigbaar begin word. Ek het letterlik byna 100 voorbeelde waar persone hulle eie finansiële beplanning gedoen het en onder die indruk was dat hulle een ding doen, terwyl hulle heeltemal iets anders gedoen het. Baie persone daarbuite is nie bewus van die feit dat jou tipe beroep ‘n invloed het op die tipe ongeskiktheidsversekering wat hy of sy moet uitneem nie. Of, hoeveel van julle het gedink dat indien hy of sy ongeskik verklaar raak ‘n polis vir gevreesdesiektedekking sou uitbetaal? Inteendeel, ek het gevalle waar persone wel ongeskik verklaar is en dan ‘n eis teen hulle gevreesde siektedekking, sonder sukses, ingedien het. Dieselfde beginsel geld met enige beleggings- of spaarproduk. Daar is nie ‘n belegging wat vir almal gepas is nie.

Daar is tientalle faktore wat oorweeg moet word en tientalle vrae wat gevra moet word voor jy ‘n gepaste beleggings- of spaarproduk vir jou sal kan identifiseer. Die finansiëleadviesdienstebedryf is besig om drasties hersien te word en die manier hoe makelaars en finansiële beplanners in die toekoms vergoed gaan word gaan heelwat anders lyk as tans. Daar gaan selfs meer beskerming aan kliënte gebied word. Praat dus eerder met ‘n goed gewalifiseerde finansiële beplanner en ontgin die waarde van sy of haar advies tot jou voordeel.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.