Die verlange knaag, maar senior burgers hou moed

0
1180
Inwoners van die Trans 50-tehuis vir bejaardes hou hulself besig met kuns tydens die inperking. Van links is Cathy Cruywagen, Nellie Robertson, Priscilla Zaayman en Bettie Steinmann.

Met die nasionale inperking wat Suid-Afrikaners nou al vir weke in hul huise hou, moet senior burgers in aftreeoorde probeer besig bly om die tyd te verwyl. Bloemfontein Courant het hierdie week met ‘n paar aftreeoorde gesels om te hoor hoe inwoners die grendeltyd hanteer.

Marizanne Burger van Noorderbloem sê die inwoners se gemoed was baie positief vir die eerste paar weke. Hulle het besig gebly met huis-regpak en ontslae geraak van oortollige artikels. “Die laaste paar dae ervaar ons egter dat hulle kriewelrig en gefrustreed raak.

Eensaamheid is ‘n groot probleem, veral by enkellopers, omdat die mens `n sosiale wese is en graag met iemand anders of `n groep wil kommunikeer. Die inwoners kom tot by hulle voorhekkies en kan gelukkig steeds lekker met mekaar gesels.”

Sy sê die verlange na kinders en kleinkinders raak groot en die trane raak baie. “Oumas en oupas waardeer oproepe en videooproepe geweldig baie. Meeste van die inwoners is selfversorgend en kan hul eie kruideniersware aankoop. Die snoepie het `n groot verskeidenheid kruideniersware, lekkernye, vars vrugte en groente van die mark in voorraad. Bestellings word ook by eenhede en woonstelle afgelewer.”

Inwoners van Trans 50 in Bloemfontein het tydens die inperking spekbome geplant met die nodige voorsorgmaatreëls in plek.

Magrita de Wet van Trans 50 vertel dat inwoners daar gemengde gevoelens ervaar. Soms is hulle baie positief, maar soms raak dinge te veel vir hulle. Die aftreeoord bied leefstylprogramme aan waar sosiale afstand gehandhaaf word. Hulle het onder meer ‘n spekboomplant-projek gehad, konsert gehou, en ‘n spesiale Moedersdagprogram geniet.
Gelukkig is baie van hulle ywerige lesers, blokkiesraaiselliefhebbers en legkaartbouers.

“Hulle het meestal toegang tot die media via TV, koerante en radio, dus bly hulle op die hoogte van die nuusgebeure,” sê De Wet. “Baie van ons mense versorg ook hul eie tuintjies en hoewel die lang gras pla, mis hulle hul haarkappers baie meer.”

Ans Coetzee, direkteur van Athalia Uitreik, het gesê dat die senior persone die inperking redelik positief aanvaar en hoewel daar sommige dae is wanneer inwoners verlang, is dit nie vir lank nie, dan gesels hulle weer heerlik of kyk saam TV. Sy vertel dat Athalia die besoeke van skole en kerke se uitreikaksies, vrouediensuitreike en Bybelstudiegroepies, wat vir hulle hoogtepunte was, baie mis.

“Athalia se verblyfkoste sluit drie maaltye in, so inwoners is nie afhanklik van kruideniersaankope nie. Athalia is afhanklik van donasies van besighede en die publiek en is altyd baie dankbaar vir voorsiening.” Inwoners se persoonlike artikels soos toiletware word deur die maatskaplike werker gekoop sodat hul nie blootgestel word aan enige risiko by winkelsentrums nie.

Inwoners van Athalia Uitreik kom steeds in die eetsaal bymekaar om etes saam te geniet. Van links is Laomie Botma, Hans van Deventer en Joeye Benn.

Christa Gouws van Stellenryk-aftreeoord sê dat almal in die oord hul frustrasies het, maar dat dit goed gaan onder omstandighede. In sekere gevalle help bure mekaar met kosaankope en tot dusver was daar geen probleme nie.

‘n Paar ywerige naaldwerksters het ingespring en vir almal in die oord maskers gemaak, waarvoor inwoners groot waardering het. Sy sê een van die groot frustrasies tans is dat daar geen tuindienste gelewer word nie. “Kinders en kleinkinders word baie gemis en dus is sosialisering ‘n reuseprobleem.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za