Die telling: Kyra 2; Kanker 0!

0
599
Kyra Burger en haar ma, Mandi Venter, tydens n fotosessie in die kindersaal van Universitas-Akademiese Hospitaal. Foto's Chandese Koen Photography

Die klein kankervegtertjie van Bloemfontein, Kyra Burger, wat vandag haar tweede verjaardag in die Universitas- Akademiese Hospitaal vier, kon volgens haar ma, Mandi Venter, nie vir ‘n beter verjaardaggeskenk gevra het nie as om ongeveer 400 mense by haar eerste fondsinsamelingsgeleentheid op 3 Augustus vanjaar te hê nie.
In Bloemfontein Courant se vorige berig oor die dogtertjie het haar ouers hulp gevra by die gemeenskap vir Kyra se mediese koste. Courant stap reeds die afgelope byna twee jaar die pad saam met Kyra wat op ouderdom vyf maande met stadium 4-neuroblastomakanker gediagnoseer is.

Kyra Burger

Venter sê hulle is regtig geseënd om vandag Kyra se tweede verjaardag saam met haar te vier. Sy vertel dat sy behoorlik ‘n knop in haar keel gekry het op die dag van die Fun Run for Little Kyra toe sy weer besef het hoeveel mense vir haar dogtertjie omgee.
“Mense wat ons nie eers ken nie is daar vir ons. Baie mense het net eenvoudig geld geskenk sonder om te hardloop. Ons is so dankbaar vir elkeen, asook vir die mense by Crunch100 wat uit hul pad gegaan het om ons te ondersteun. Ons wil vir almal uit die diepte van ons hart dankie sê.”

Venter sê die plan is steeds om die geld te gebruik om klein Kyra vir immuniteitsterapie oorsee te neem. Op hierdie oomblik gaan dit baie goed met Kyra, al is sy verlede Donderdag opgeneem vir koors en omdat haar bloedtelling en plaatjies baie laag was. Venter verduidelik daar was net een kolletjie op haar lewer ná haar dogtertjie se laaste sterk chemobehandeling.

Kyra Burger

“Op 26 Augustus kom Kyra weer terug vir vyf dae se chemo en dan gaan sy vir drie weke huis toe. Daarna moet sy weer terugkom vir nog vyf dae se chemo. En dan gaan hulle weer kyk hoe haar lewer lyk.”

Venter sê sy glo die Here is besig om haar kind te genees en dat klein Kyra nog baie mense se lewens gaan verander en vir die Here gaan getuig.

Caroline-Grace sing vir Kyra in die Tweespruit NG Kerksaal op 30 Augustus. Vir meer inligting, kontak Charlene by 076-594-8588 of Liezel by 082-823-3395.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za