Meeste mense in die stad het hulle al gehoor en moontlik al gesien, maar min mense weet wie hulle is. Wilbur Venter en Richie du Plessis is Bloemfontein se eie straatevangeliste. Die twee mans met hul bakkie, Bybels en boodskap is op ’n missie in die Stad van Rose.
Venter het in 2018 straatevangelisasie begin doen terwyl hy by ’n bybelskool gestudeer het. “In 2019 het ek voltyds in die bediening gegaan as ’n straatevangelis. Daar was ’n tydperk in 2021 wat ek opgehou het en gedink het die Here het my geroep om iets anders te doen, maar deur die genade van God het Jesus my teruggeroep,” het hy verduidelik.
“In 2017, die jaar ná matriek, het ek begin werk en ek het my rooi seël as ’n dieseltegnikus in 2020 ontvang,” het Du Plessis vertel. “Ek het my werk baie geniet maar het van ’n jong ouderdom gevoel die Here roep my om Sy Woord te verkondig. In 2023 het ek my werk gelos en voltyds in die bediening gegaan.”
Die twee mans se missie is om van die oggend tot laatmiddag in Bloemfontein te evangeliseer. Hulle reis selfs na ander dorpe en provinsies om die evangelie te verkondig. “Ons missie is om verlore siele te bereik vir die koninkryk van God, hoofsaaklik in die strate,” het hulle vertel.
Beide Venter en Du Plessis glo hulle is geroep tot hul bediening. “Van ’n jong ouderdom het ek ’n roeping van die Here ontvang,” het Du Plessis verduidelik, terwyl Venter ook vertel: “Ek het eenvoudig gesê ‘hier is ek Here, stuur my net’.”
Die twee straatevangeliste ry daagliks van plek tot plek in die stad. Hulle probeer só om mense se lewens aan te raak en om sovêr hulle gaan ’n verskil te maak.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za