Die stof spat in Bloemfontein

0
414
Dirk Putter en Hennie Hattingh was baas oor die stof in hul Ford Ranger. FOTO'S: MORGAN PIEK

Die enjins het Saterdag gekreun en die stof het behoorlik getrek tydens die vyfde been van die Goldco Midas 250-veldrenkampioenskap wat in en om Bloemfontein plaasgevind het.
Die motorbestuurders moes hul staal toon oor ‘n roete van 250 km, wat by die Tempe-vliegveld begin het en deelnemers vir tot so ver as Krugersdriftdam en Soetdoring geneem het.

Slegs 22 van die voertuie wat in agt verskillende klasse deelgeneem het, kon die roete voltooi.

Die dag het met ‘n tydtoets oor ‘n afstand van sowat 60 km begin. In die tydtoets het Jacques van Tonder en Samuel Redelinghuys in hul Ford Ranger die roete in 35:16 voltooi. Malcolm Kock en Frans Kock, wat ook ‘n Ford Ranger bestuur het, was 26 sekondes stadiger om die tydtoets in 35:42 te voltooi. Stefan van Pletzen en Jaco Pieterse in ‘n Chenowth 2005 was slegs twee sekondes stadiger om die derde vinnigste tyd in 35:44 op te stel.

Van Pletzen en Pieterse was egter die algehele wenners van die veldren wat 12:00 die middag begin het. Die paar het die uitdagende roete in ‘n blitsige 2:32:01 voltooi om met 19 sekondes koning te kraai. Richard Leeke en Zaheer Bodhanya het ‘n goeie dag vir die Ford Rangers afgelsuit deur om tweede oor die eindstreep te jaag in 2:32:20. Ernest Roberts en Henry Kohne in hulle Nissan Navara het die algehele podium afgerond om in 2:32:48 in derde te eindig. Malcolm en Frans Kock, wat tweede in die tydtoets was, moes in 2:33:20 met die vierde plek tevrede wees. Van Tonder en Redelinghuys het in 2:39:26 sesde oor die eindstreep gejaag. – MORGAN PIEK

Goldco Midas 250 – Final Overall Results