Die span kom altyd eerste

0
359
Matthew Kleinveldt in aksie vir die Cape Cobras teen die Warriors op Nuweland in Kaapstad tydesn die 2019/20 KSA Vierdag-reeks. FOTO: RYAN WILKISKY/BACKPAGEPIX

Die veelsydige 30-jarige speler Matthew Kleinveldt, wat in Engeland gebore is, is slaggereed om die volgende hoofstuk van sy krieketloopbaan te begin wanneer hy by die VKB Knights aansluit.

Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is die speler egter nog in die Kaap en in dié stadium is dit onbekend wanneer hy na die Rosestad sal verhuis.
Kleinveldt sluit by die Knights aan nadat hy deel was van die Cape Cobras. Hy is die neef van die voormalige Proteas-naatbouler, Rory Kleinveldt.

Hoewel hy ietwat onbekend is, het hy al meer as 100 eersterangse wedstryde op sy kerfstok en hoewel hy meer van ‘n kolwer is, het hy reeds meer as 100 paaltjies as draaibalbouler platgetrek.

Hoewel die Knights die dienste van die ster-kolwer, Keegan Petersen, aan die Dolphins afgestaan het, is daar steeds baie kompetisie onder die kolwers in die span en dit is iets wat die hotkloukolwer, Kleinveldt, opgewonde maak.

Kleinveldt het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy daarna uitsien om sonder probleme by die span aan te pas en hoewel hy opgewonde is om soveel as moontlik by die legendariese Allan Donald te leer, kom die span eerste.

“Dit is ‘n voorreg om met die Knights geassosieer te word en saam te werk met die spelers wat reeds in die groep is.

“Die kwaliteit is beslis daar; ek sal dit op ‘n ander manier benader en die talent in die groep probeer benut. Ek sal probeer om jong spelers soos Raynard van Tonder en ouens soos hy se ingesteldheid te benut, die manier waarop hulle te werk gaan, iets daaruit te haal en ten volle saam met die groep te werk.

“Ek sal by elke geleentheid alles gee vir die span want dit gaan vir my nie oor myself nie. My idee is om die groep te verbeter en om by hulle aan te pas.

“Om saam met iemand soos Allan Donald (hoofafrigter) te werk, is iets waarna ek ook baie uitsien. Hy is iemand wat Suid-Afrika verteenwoordig het en die land baie trots gemaak het. Ek sien uit daarna om saam met hom te werk, op watter manier of vlak hy my ook al in my spel kan help.

“Dit is vir my baie opwindend en gaan terselfdertyd uitdagend wees. Daar gaan plekke in die span beskikbaar wees, maar ek wil die span in gedagte hou; die span kom eerste. Hoe ook al ek in die span kan inpas, en wat om te doen van my kant af om die span te verbeter, dit sal my fokus wees.”

Ander nuwe spelers wat vir die nuwe seisoen gekontrakteer is, sluit in Ferisco Adams, Duan Jansen, Alfred Mothoa, Migael Pretorius, Jacques Snyman en Jonathan Vandiar. – MORGAN PIEK