Die sondes van ons jeug

0
1086

Die sondes van ons jeug kan lei tot lekker (aangedikte) stories op ons oudag. Soos die kar steelverhale. Om jou pa of ma se kar vas te lê sonder om gevang te word, was die hoogtepunt van alle uitdagings toe ek op skool was. My een nefie, Adriaan, het die kuns om sy ma se kar “sonder toestemming te leen” vervolmaak.

Sy ouers is gereeld naweke strandhuis toe. Hy het verkies om tuis te bly, om “te leer vir matriek”. Sy pa-hulle was Vrydae skaars oor die eerste bult, dan sou hy die geel Uno (destyds die eerste een in George) met ’n spaarsleutel, wat hy stilletjies laat maak het, uittrek. Naweek-dag-trips Knysna en selfs Plett toe saam met sy pelle, het ’n gereelde instelling geword.

Sy ma, wat die Uno net in die dorp gebuik het, was verstom omdat die kar “so mooi spierwit brand”. ’n Paar jaar nadat hy al uit die huis was, loop sy ma ’n skoolmaat van hom raak. “Middag, Tannie,” raak die jongman aan die gesels. “Hoe gaan dit met Adriaan? Het hy nog daai geel Uno?” My verhaal speel hom op Vryburg af.

Ford Ranchero-bakkie. Pa-hulle weg vir die naweek. Matriek, 1973. Kry die sleutel wat Pa weggesteek het. Gaan laai windgat die Saterdagaand my pel, Con, op. Ons jaag uit op die Kurumanpad. Jaag terug. Draai te vinnig by die eerste straat in. Die Ranchero gooi sy gat alkant toe terwyl ek woes aan die stuurwiel pluk.

Dat dit toe juis in daardie straat moes wees dat ou Long, die dorp se gevreesde spietkop, op een van die huise se stoep met sy meisie moes sit en vry! Blou ligte en sirenes. Hy jaag ons uiteindelik aan die anderkant van die dorp in. Pluk sy boeteboekie uit. “Roekelose bestuur! R200,” sê hy voor hy begin skryf. (Dis omtrent wat my pa, die bankbestuurder, per maand verdien.) “Oom,” prewel-smeek ek, “ek het nie ’n lisensie nie.” Hy kyk my ’n paar oomblikke aan: “Okei. Ongelisensieerde bestuur. R30!” Dit was my laaste loesing by my pa.

Albé Grobelaar