Die soet en suur van Wayde van Niekerk se byeenkoms Saterdag

0
1053
RUFUS BOTHA

Suid-Afrika se beste 400 meter-atleet van alle tye, Wayde van Niekerk (Kovsies) het verlede Saterdag die soet sowel as die suur van ‘n atletiekbyeenkoms beleef. Dit binne die bestek van vyf minute.

Van Niekerk het vanjaar wêreldatletiekbane aan die brand gehardloop en het die Suid-Afrikaanse senior rekord in die
400 meter (43,38) agter sy naam geskryf. Hy is verlede Saterdag gevra om deel te neem in die senior afdeling by die Vrystaatse meestersatletiekkampioenskap in Bloemfontein. Die rede vir die versoek – die land se voorste meestersatlete was in aksie en meeste van hulle het (of gaan dalk nooit) vir Van Niekerk in lewende lywe in aksie sien nie.

Van Niekerk het ingestem hoewel hy tans in ‘n rusperiode is, en besluit om aan die 200 meter-wedloop deel te neem. Hy het die wedloop op ‘n drafstap gewen in 22,51. Hy is goed besig gehou voor en na sy wedloop met hordes van die ouer garde wat met hom wou gesels en foto’s saam met hom wou neem.

Toe kom die suur van Van Niekerk se byeenkoms. Sy stiefpa, Steven Swarts, wat een van sy grootste ondersteuners en goeie meestersatleet is, tree toe kort na Van Niekerk se wedloop aan in die afdeling vir mans
35 – 39 jaar, ook in die 200 m.

Met twintig meter einde toe, het dit geblyk dat Swarts swaar leef en net ná die eindstreep, waar Van Niekerk vir hom gewag het, het hy soos ‘n os neergeslaan. Swarts is opgehelp, maar hy was duidelik duiselig en sy regtergewrig is beseer. Van Niekerk en sy ma, Odessa, het hom dadelik hospitaal toe geneem waar daar bevind is dat hy sy regtergewrig gebreek het.

Die arm was egter nie al nie. Swarts het gekla dat hy die laaste 20 meter kwaai duiselig gevoel het en kon nie veel van die laaste deel van die wedloop onthou nie.

Courant het by hom ‘n draai gemaak in Life-Rosepark-hospitaal. Hy is intussen geopereer en ‘n stuk been moes uit sy heup gehaal word om sy gewrig te herstel. "Ek was baie bekommerd oor die duiseligheid en toetse is gedoen. Die toetse het gewys dat ek ‘n suikerprobleem (Tipe 2-diabetes) het, maar my hart klop darem nog reg", het hy verlig vertel.